Man vas nadat hy vrou glo aan die brand steek

Sizakele-Nkosi-Malobane, Gauteng se LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: ANA

Speurders van Johannesburg-Sentraal het ʼn 27-jarige man in Mokopane in Limpopo aangekeer in verband met die moord op sy meisie toe hy na bewering petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het.

Die grusame dood van Viwe Dalingozi (31) het die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid só omgekrap dat sy aangedring het op die spoedige inhegtenisneming van die verdagte, berig African News Agency.

Ná die voorval in die vroeë oggendure van Saterdag in ʼn woonstelblok op die hoek van Pritchard- en Delversstraat in Johannesburg se middestad, het die verdagte op die vlug geslaan. Hy is Dinsdagaand in Limpopo aangekeer en sal na verwagting Donderdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Die voorval het plaasgevind in die slagoffer se woonstel in Fashion Lofts (middel) in Johannesburg se middestad. Foto: Google Maps

Dalingozi en haar kêrel het glo Vrydagnag ʼn rusie gehad in haar woonstel. Blykbaar het hy gewag tot sy slaap voordat hy in die vroeë oggendure petrol oor haar uitgegooi en haar aan die brand gesteek het.

Haar woonstel het aan die brand geslaan en brandbestryders is ontbied om die brand te blus.

Dalingozi is later in die Charlotte Maxeke-hospitaal in die stad opgeneem, waar sy Sondag beswyk het.

Luidens aanvanklike berigte het die verdagte nadat hy gehoor het dat Dalingozi in aanraking met haar eks was, hom bloedig vererg, maar nie dadelik opgetree nie.

“Sulke voorvalle het ʼn gereelde verskynsel geword en ons behoort dit so sterk moontlik te veroordeel,” het Sizakele Nkosi-Malobane, die LUR, Woensdag gesê. “Ek is woedend oor die sinnelose moord op Viwe Dalingozi, na bewering deur haar kêrel.”

Sy het gesê owerhede moet aanhou om vroue af te raai om in verhoudings te bly waarin hulle mishandel word. “Mans is veronderstel om vroue en kinders te beskerm.”

Kapt. Xoli Mbele, woordvoerder van Johannesburg-Sentraal se polisiekantoor, het die gemeenskap bedank dat hulle die polisie se oë en ore in die stryd teen misdaad is. “Dit is danksy hul inligting dat ons die verdagte kon aankeer,” het hy Woensdagmiddag aan Maroela Media gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Christa ·

Wens LUR is so uitgesproke oor aanvalle op plase in Gauteng.

JG ·

@ Christa, vergeet maar daarvan. Hulle vuur dit dan aan, terwyl ou CR lieg daaroor.

Doodstraf ·

Dis verskriklik! Net jammer die doodstraf is weggeneem…..

Oostenwald ·

Daar is heelwat plaasmoorde wat sonder rede baie wreder was. Die skaal van gereg is met opset ‘n blatante en tartende klug.

$ ·

Hierdie moord was tot die uiterste wreed. Die wreedheid en onreg van plaasmoorde en die verskil in hantering daarvan deur ministers/die regering maak nie hierdie moord minder erg, wreed en sinneloos nie. Die slagoffer het ´n verskriklike dood gesterf en dink julle in hoe verskriklik dit moes wees om in vlamme gehul wakker te word – ander mense se ´erg’ maak nie haar ´erg’ minder erg nie.

Dis bitter bitter wreed en hartseer – mag geregtigheid geskied.

Arno ·

Hoekom word die selfde nie gedoen om plaas moordenaars te vang nie? Weet nie van een plaasmoord verdagte wat al gevang en gevonnis is nie. Maar owee kom ons tel elke klip op en soek een ou vir huis geweld!

Cherokee ·

Meeste kommintare kyk die verskriklikheid, die boosheid van wat gedoen is mis, en stuur die gesprek in ‘n ander rigting. Dit is asof dit wat gebeur het van minder belang is vir meeste van die tot toe kommintare. Spelling van kommintare is soos bedoel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.