Man vas oor bewerings van Chabane-‘sluipmoord’

Die wrak van die motor waarin minister Collins Chabane, sy bestuurder en sy lyfwag gery het (15 Maart 2015) Foto: @Thabiso_Dlamini, Twitter

Die wrak van die motor waarin minister Collins Chabane, sy bestuurder en sy lyfwag gery het (15 Maart 2015) Foto: @Thabiso_Dlamini, Twitter

ʼn Man is Woensdag in hegtenis geneem nadat hy op sosiale media beweer het die ongeluk waarin Collins Chabane, minister van staatsdiens en administrasie, dood is, was ʼn sluipmoord.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat aanklagte van crimen injuria, naamskending en uitlokking teen Thembani Chabane aanhangig gemaak is.

Dit kom nadat die minister se familie die polisie genader het nadat hulle van Thembani se bewerings op Facebook bewus geword het. Die polisie het met ʼn ondersoek begin en nadat Thembani ondervra is, is hy in hegtenis geneem. Otto kon nie bevestig of Thembani familie van die oorlede Collins Chabane is nie. Thembani sal binnekort in die Polokwane-landdroshof verskyn op die drie aanklagte.

The Star het vroeër berig dat Thembani op Facebook beweer het dat die vragmotorbestuurder wat betrokke was in die botsing waarin Chabane gesterf het, gehuur is om die minister te vermoor. Hy het verder beweer dat daar al verskeie pogings was om Chabane om die lewe te bring.

Amukelani Rikhotso, die vragmotorbestuurder, is intussen Dinsdag op borgtog van R5 000 vrygelaat. Hy moet weer op 15 Mei in die hof verskyn.

Die ongeluk het in die vroeë oggendure van Sondag 15 Maart op die N1-hoofweg naby Polokwane plaasgevind. Rikhotso het glo ʼn U-draai voor Chabane se motor gemaak. Chabane, sy motorbestuurder en ʼn lyfwag is in die ongeluk dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Laat dit vir ons almal ‘n les wees om jou te weerhou van sulke uitsprake en as jy wel iets te sê het dit aan die polisie oor te dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.