Man vas oor diefstal van huurmotor by lughawe

Argieffoto

Argieffoto

Michael Thage (36) van Midrand in Gauteng moet op 30 Junie weer in die hof verskyn in verband met ʼn huurmotor wat deur ʼn verhuringsmaatskappy by die OR Tambo Internasionale Lughawe as gesteel aangemeld is.

“Thage was al sedert 16 Maart voortvlugtend nadat sy vermeende medepligtige, Prince Maluleke (30) van New Eersterus naby Hammanskraal in Pretoria, in hegtenis geneem is,” het brig. V. Naidoo, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

Thage het homself Maandag aan die polisie oorgegee. Hy staan tereg op aanklag van die diefstal van ʼn motorvoertuig en dat hy gesteelde goedere in ontvangs geneem het. “Hy het Dinsdag in die Kempton Park-landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R5 000,” het Naidoo bygevoeg.

Maluleke, wat tereg staan op aanklag van voertuigdiefstal, het al sedert sy inhegtenisneming op 16 Maart twee keer in die Kempton Park-landdroshof verskyn. Hy is ook vrygelaat op borgtog van R5 000 en moet weer op 30 Junie saam met Thage in die hof verskyn.

Na bewering het Maluleke ʼn motor by die verhuringsmaatskappy gehuur. Die maatskappy het ʼn saak van diefstal teen hom aanhangig gemaak nadat hy versuim het om die motor op die betrokke dag terug te bring. “Tydens die voorlopige ondersoek het die polisie ontdek dat Maluleke glo die voertuig vir R20 000 aan Thage verkoop het,” het Naidoo verduidelik. “Die polisie het intussen die Toyota Corolla verlede maand in ʼn parkeerarea in Gezina, Pretoria, opgespoor. Dit het vervalste nommerplate en ʼn vervalste lisensieskyf opgehad. Die nommerplate en lisensieskyf was oorspronklik op ʼn silwer BMW.”

ʼn Ondersoek deur die taakspan dui daarop dat Thage die motor, en ongeveer 10 ander motors, vir sy pendeldiens gebruik het waar hy persone tussen Pretoria en die OR Tambo-lughawe vervoer.

Dit is nog nie duidelik of die 10 ander voertuie, hoofsaaklik Duitse sedans, ook gesteel is nie.

Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Werklikwaar, die man het goeie smaak wat die fabrikaat van voertuie betref.

KarooKlong ·

Sterkte aan die werklike eienaars van die ander tien voertuie met die afhandeling van hulle e-tol rekeninge.

CHRISTA ·

Ek wonder hoeveel hy met sy pendeldiens gemaak het? Dink daaraan: hy betaal nie inkomstebelasting, of VAT of TOLGELDE nie!! Lekker né? Wat se straf dink julle gaan hy ontvang (as hulle daarin slaag om hom agter tralies te hou)?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.