Man vas oor diefstal van Soweto Country Club-heining

Soweto Country Club (Foto: South Africa Golf)

ʼn Man is Vrydagoggend in hegtenis geneem in verband met die diefstal van die heining om Soweto Country Club, wat binnekort deur Gary Player herontwerp sal word.

Player het die gholfbaan oorspronklik in 1974 ontwerp en sal die baan kosteloos herontwerp as deel van opknappings by die klub.

ʼn Nuwe klubhuis, oefenfasiliteit, konferensiesentrum en ʼn heining op die grens van die gholfbaan is reeds opgerig as deel van die projek. Die bestaande stoor sal ook omskep word in ʼn winkel en ʼn Suid-Afrikaanse Gholfontwikkelingsakademie.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê die polisie het Vrydagoggend omstreeks 03:45 toegeslaan op Mahogany-woonstelle in Eldorado Park. Een verdagte is in hegtenis geneem wat vermoedelik by die diefstal betrokke was.

“Die polisie is steeds op soek na nog vier verdagtes, wat reeds geïdentifiseer is. Die verdagte sal Maandag in die Kliptown-landdroshof verskyn,” het Mashaba bygevoeg.

ʼn Span, onder leiding van die forensiese ondersoekdiens (GFIS), Johannesburgse metropolisie en SAPD, het verlede week in ʼn woonstelblok in Eldorado Park beslag gelê op 12 deursigtige panele, ter waarde van ongeveer R60 000.

“Die heining vorm deel van die opknappingswerk aan Soweto Country Club, wat ten doel het om ekonomiese opheffing te bring vir die gemeenskap. Ek is in kennis gestel dat die diewe glo al van Desember die heining bietjie vir bietjie geknip het,” het Mashaba bygevoeg.

ʼn Lid van die publiek het verlede week inligting deurgegee oor waar die heining is en wie daarvoor verantwoordelik is. Die eienaar van die huis was nie tydens die klopjag tuis nie.

“Ek is bly die dief is agter tralies. Ek het geen twyfel nie dat die polisie onverpoosd sal werk om seker te maak dat almal wat hierby betrokke was, aangekeer sal word. Ek loof die GFIS en die polisie vir die uitstekende werk,” het Mashaba gesê. Hy het ook die inwoners van Eldorado Park bedank dat hulle geweier het om deel te wees van dié kriminele aktiwiteit.

“Ek wil mense graag aanmoedig om enige diefstal, bedrog of korrupsie aan te meld by 0800 002 587 of besoek GFIS se kantoor by Ameshofstraat 48, Braamfontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.