Man vas oor duisende Ivermectin-tablette

(Foto: SAPD)

Die polisie in KwaZulu-Natal het ’n man by die King Shaka-lughawe in Durban in hegtenis geneem toe hy betrap is met duisende tablette van die veemiddel Ivermectin.

Kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, sê die 43-jarige man het pas van Dubai in die land aangekom toe hy met 2 464 tablette Ivermectin met ʼn markwaarde van sowat R100 000 in sy handbagasie betrap is.

Die middel, wat plaaslik onder die handelsnaam Ivermax bemark word om vee teen parasiete in te spuit, is glo landwyd uitverkoop weens ʼn stormloop deur desperate Suid-Afrikaners wat hoop dat die middel hulle teen Covid-19 kan beskerm as dit per mond ingeneem word.

Die sogenaamde wondermiddel teen Covid-19 is egter nié vir menslike gebruik deur die beheerliggaam vir gesondheidsprodukte in Suid-Afrika (Sahpra) goedgekeur nie.

“Volgens Sahpra word Ivermectin nie goedgekeur vir gebruik deur mense nie. Daar is ook nog geen bevestigende data oor Ivermectin beskikbaar vir die gebruik daarvan vir die behandeling van Covid-19-infeksies nie,” benadruk Mathe.

Die man het intussen in die landdroshof in Verulam verskyn op aanklag van die besit van ongeregistreerde medisyne asook die invoer van medisyne sonder ʼn geldige permit.

Die man sal na verwagting weer Vrydag in die hof verskyn wanneer hy aansoek om borgtog sal doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.