Man vas oor dwelms van meer as R1 miljoen

Verskaf deur SAPD Limpopo

Die inhegtenisneming van ʼn 47-jarige man deur die snelwegpatrolliespan in Limpopo het tot ʼn dwelmvonds gelei.

Lt.kol. Mamphaswa Seabi, woordvoerder van die polisie, het gesê die man is op Oukersdag in Polokwane in hegtenis geneem. “Beamptes was besig met hul daaglikse patrollie toe hulle inligting ontvang het oor ʼn man wat in die stad rondry en vermoedelik met dwelmmiddels handel dryf. Die voertuig, wat by die beskrywing pas, is in een van die strate opgemerk en voorgekeer,” het Seabi gesê. Tydens die soektog is dwelmmiddels in die voertuig opgespoor.

Beamptes het daarna die man se huis in Bendor in Polokwane deursoek waar daar beslag gelê is op dwelmmiddels van meer as R1 miljoen. “Dwelmmiddels soos CAT, tik en nyaope is gevind en beamptes het ook beslag gelê op ʼn onbekende bedrag kontant. Die voertuig wat gebruik is om die dwelmmiddels mee te vervoer is ook geskut.”

Die man sal binnekort in die Polokwane-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.