Man vas oor gesteelde Thohoyandou-vuurwapens

Foto: SAPD, Limpopo

ʼn 24-jarige man is Saterdagoggend in Malamulele naby Giyani in Limpopo in hegtenis geneem in verband met 19 vuurwapens wat van die perseel van ʼn veiligheidsmaatskappy in Thohoyandou gesteel is.

Die man het ʼn winkel beroof van kontant, lugtyd en selfone en een van die 19 vuurwapens gebruik wat die vorige dag van Prelitshi Traders and Security Services gesteel is, het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, gesê. Die persone het ook ammunisie van die veiligheidsmaatskappy gesteel.

“Ná die inbraak by die veiligheidsmaatskappy het drie verdagtes na Malamulele gegaan waar hulle ʼn plaaslike winkel betree en vuurwapens op die eienaar gerig en geld geëis het,” het hy verduidelik. “Hulle het ʼn bedrag kontant, ʼn lugtyd-drukker, lugtyd, sigarette, twee selfone en ʼn video-opnemer gesteel. Die polisie is ontbied en het met behulp van die gemeenskap die verdagtes agternagesit en een in hegtenis geneem.”

Die polisie het beslag gelê op een van die 19 gesteelde vuurwapens en ses patrone. “Die soektog na die ander verdagtes en gesteelde vuurwapens duur voort.”

Die man, wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn op aanklag van huisbraak, sakeroof en die besit van ʼn vuurwapen sonder ʼn lisensie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.