Man vas oor kind se liggaam in die kerk

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man sal na verwagting Maandag in die hof verskyn nadat die geskende liggaam van ʼn vierjarige seun by ʼn kerk in Pongola, KwaZulu-Natal opgespoor is.

“ʼn 23-jarige man is Donderdag in hegtenis geneem en sal na verwagting in die Pongola-landdroshof verskyn,” het kapt. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy word van ontvoering en moord aangekla.”

Die man word glo ook verbind aan ʼn saak waar ʼn vyfjarige seun in dieselfde gebied in Junie 2014 ontvoer en aangerand is.

Zwane sê die pastoor wat vroeër in aanhouding was nadat die liggaam by sy kerk ontdek is, is in die hospitaal opgeneem. “Die man is Vrydag in die kattebak van sy motor aangetref. Ons het nie verdere besonderhede nie, die polisie wag vir hom om te herstel sodat ons die besonderhede kan kry,” het hy gesê.

Die pastoor is op 15 Julie vrygelaat en die polisie het in daardie stadium gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die pastoor was in aanhouding sedert die vierjarige Kiki Ntuli se oorskot op 6 Junie in ʼn plastieksak ontdek is.

Forensiese spesialiste wat die 51-jarige pastoor se eiendom ondersoek het, het nog beendere op 11 Julie opgespoor. Die polisie het ʼn skedel en beendere by ʼn vrou se huis in Ncotshane gevind. Die polisie sê dit is nie duidelik of die beendere aan Ntuli se saak verbind word en of dit menslike beendere is nie. Die beendere is vir forensiese toetse gestuur.

Ontstoke inwoners van Pongola het ná Ntuli se liggaam ontdek is, die vrou en pastoor se huis aan die brand gesteek. Vyftien mense is op aanklag van geweld in hegtenis geneem en moes in die Ncotshane-landdroshof verskyn. Die hof is egter met ʼn petrolbom aangeval. Die groep het uiteindelik Vrydag in die landdroshof in Pongola verskyn waar hulle op ʼn waarskuwing vrygelaat is. Die saak is tot 28 Julie uitgestel.

Lees ook:
Beendere gevind op Pongola-pastoor se eiendom
Liggaamsdele in kerk: Hof afgebrand
Pastoor vas oor liggaamsdele in kerk
Kind se liggaamsdele in kerk opgespoor

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.