Man vas oor moord op polisiebeampte

(Argieffoto: Maroela Media)

Ayanda Tutu (38) het Woensdag in die landdroshof in Oos-Londen verskyn op aanklag van die moord op ʼn polisiebeampte, gewapende roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen. Tutu bly in aanhouding.

Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê hy is Dinsdag in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig twee onbekende mans het op 18 Junie omstreeks 18:30 die huis van sers. Mphakameli Mazinywana (48) betree by Old Payne- informele nedersetting in Mthatha in die Oos-Kaap. Hy en sy vrou was die Vrydagaand in hul huis. Die aanvallers het verskeie skote gevuur en Mazinywana is noodlottig gewond.

Die verdagtes het met sy amptelike dienswapen gevlug. Hy was aan die Mthatha-Sentraal-polisiestasie verbonde.

“Die Valke in Mthatha het Dinsdagoggend in samewerking met die Gqeberha- taktiesereaksie-eenheid en die blitspatrollie Tutu by sy huis in Motherwell in hegtenis geneem. Hy het ʼn vuurwapen en 12 patrone in sy besit gehad.”

Die saak is tot 23 Julie uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het vroeër haar skok oor die voorval uitgespreek. “Die SAPD het ʼn held verloor, ʼn pa en ʼn dienaar van die gemeenskap. Ons is platgeslaan, maar sal die skuldiges kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Persheks Adri ·

Hoop nie hy kry borg nie, maar ek hou nie asem op nie! 1 onwettige wapen van die straat af, maar nog so baie daar buite. As ek reg onthou was dit die tyd toe petters gesê het om die polisie te gaan dood maak in hulle huise… Tog loop hulle vry rond eish

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.