ʼn 67-jarige man is in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem nadat die polisie beslag gelê het op ʼn AK47 en ander wapens.
“Die Greytown-misdaadintelligensieeenheid het inligting opgevolg en ondersoek ingestel oor onwettige vuurwapens in die gebied,” het kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie het vroeg Vrydagoggend by die man se huis in die Engome-gebied beslag gelê op ʼn AK47 met 15 rondtes ammunisie, asook ʼn haelgeweer, outomatiese geweer en 9 mm-pistool.”
Volgens Naicker sal ballistiese toetse op alle vuurwapens gedoen word om te bepaal of dit tydens enige ander misdade gebruik is.
Die verdagte het in die uMsinga-landdroshof verskyn.
“Ons sal steeds sulke klopjagte vir onwettige vuurwapens in die provinsie uitvoer,” het lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, gesê. “Dit is onaanvaarbaar dat vuurwapens in ons gemeenskappe beskikbaar is en ek bedank die lede van die gemeenskap wat met die inligting na vore gekom het en die polisie bystaan.”
Gaan hierdie weer die Kwa-Zulu van die 80s word? Wie van julle kan dit nog onthou?