Man vas oor poging tot moord op verkeersbeampte

(Argieffoto: Kent Williamson)

ʼn 47-jarige man is Vrydag in Phokeng in Noordwes in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord, die rig van ʼn vuurwapen en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Kapt. Aafje Botma, woordvoerder van die polisie, sê die verdagte is in hegtenis geneem toe hy ʼn verkeersbeampte wou skiet. “Volgens inligting wat in hierdie stadium beskikbaar is, was twee verkeersbeamptes aan diens in ʼn amptelike voertuig toe hulle ʼn Toyota Corolla op die R565-pad in Boshoek buite Phokeng voorgekeer het. Die motoris is voorgekeer ná hy ʼn stopteken verontagsaam het.”

Nadat die motoris langs die pad stilgehou het, het hy uit die motor geklim, die verkeersbeamptes genader en om verskoning gevra.

“Een van die verkeersbeamptes het intussen die motor genader waar drie insittendes steeds in die motor gesit het. Hy het ʼn vuurwapen in die motor opgemerk en teruggekeer om sy kollega te waarsku. Die verdagte, wat die gesprek gehoor het, het ʼn versteekte vuurwapen te voorskyn gebring en gepoog om die beamptes te skiet, maar die vuurwapen het vasgehaak.”

Een van die verkeersbeamptes het ʼn skoot afgevuur en die verdagte in die bors getref. “Die gewonde verdagte en sy drie passasiers het toe in verskillende rigtings weggehardloop. Die gewonde verdagte het ʼn paar meter daarvandaan egter geval en hy is in hegtenis geneem en polisiebeamptes is ontbied.”

Die verdagte is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir mediese behandeling. “Terwyl die toneel ondersoek is, het die polisie op drie pistole, ʼn haelgeweer en patrone afgekom.”

ʼn Soektog duur voort na die drie verdagtes wat van die toneel gevlug het.

Die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Brig. Joel Pheto, waarnemende distrikskommissaris, het die verkeersbeamptes geloof vir hul paraatheid wat gelei het tot die inhegtenisneming en konfiskering van die vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mathys ·

Seker ‘n keuse gewees tussen vervolging deur die verkeersadfdeling of die nationale vervolgingsgesag, ‘n vinnige Google resultaat het sy opsies uitgedun of hoe?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.