Man vas oor polisiekonstabel se moord

Argieffoto: SAPD

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla John Sitole, het beamptes geloof dat ʼn man vinnig in hegtenis geneem is in verband met die moord op ʼn polisiekonstabel in Berea, KwaZulu-Natal.

Sitole het Vrydag polisiebeamptes opdrag gegee om ʼn grootskaalse soektog van stapel te stuur na die verdagtes ná twee beamptes binne 24 uur in die provinsie doodgeskiet is.

Konst. Siphelele Cele is Vrydagoggend doodgeskiet toe hy en ʼn ander beampte ʼn verdagte voertuig in Berea in Durban voorgekeer het. Toe beamptes die voertuig van albei kante af genader het, het die passasier in die voertuig op die polisiekonstabel geskiet. Die verdagte het daarna op die bestuurder se sitplek gespring en weggejaag. Die motor is later verlate gevind in Sydenham.

“Die verdagte is Saterdagaand in Pietermaritzburg aangekeer toe hy op ʼn bus na Johannesburg wou klim,” het brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die verdagte het die polisiebeamptes opgemerk toe hulle hom wou nader en het begin vlug. Hy is voorgekeer en in hegtenis geneem deur die gebruik van ʼn polisiehond.”

Die verdagte het ʼn SAPD-dienspistool in sy besit gehad wat in Desember 2019 van ʼn polisiebeampte in Umlazi gesteel is.

“Hy is by Pietermaritzburg-polisiestasie aangehou, aanvanklik op die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hy is daarna na Durban-Noord oorgeplaas waar hy aangekla is van die moord op konst. Cele.”

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn 55-jarige kaptein nie. Hy is Donderdagaand omstreeks 18:40 in New Germany, Pinetown, doodgeskiet. Die polisiekaptein was by Marianhill se eenheid vir openbare orde gestasioneer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heksie ·

Hoekom haal die gemors nog asem????
Hy het nie die polisieman ‘n halwe kans gegee om sy lewe te verdedig nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.