ʼn Man van Mosambiek is in Boitekong naby Rustenburg in Noordwes met springstof betrap, het die polisie in Noordwes Vrydag gesê.
“Lede van die Phokeng-honde-eenheid en Rustenburg se bomeenheid het ʼn wenk ontvang oor ʼn sekere huis in Boitekong waar springstof versteek word,” het kol. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.
ʼn 28-jarige man is by die huis in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van springstof. Mokgwabone sê sy inhegtenisneming sal die polisie help om sindikate, wat betrokke is in ondergrondse koperkabeldiefstal by myne, oop te vlek.
Die man sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Rustenburg verskyn.