ʼn Man het Maandag in die Johannesburgse handelsmisdaadhof verskyn in verband met die vervaardiging en besit van vervalsde banknote.
“John Rasefee se aansoek om borgtog is teengestaan,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, Dinsdag gesê. Hy moet op 3 Julie weer in die hof verskyn.
Ses mense is tydens ʼn gesamentlike operasie in Roodepoort, wes van Johannesburg, in hegtenis geneem. “ʼn Wenk het die polisie na ʼn huis gelei waar hulle vervalsde Amerikaanse dollar-note opgespoor het,” het Makgale gesê. Die geld is hier in denominasies van $50 en $100 vervaardig.
Daar was ongeveer $90 000 (sowat R933 000) in vervalsde note.
Die saak teen die vyf ander persone wat saam met Rasefete in hegtenis geneem is, is teruggetrek. Rasefete staar aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Wet op Vervalsde Goedere in die gesig. Die polisie hoop om nog mense in hegtenis te neem. -SAPA