Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die 50-jarige man het glo Donderdag ʼn apteek op die dorp besoek en ʼn doktersvoorskrif vir voorskrifmedikasie ingehandig. Die apteker het egter onraad vermoed omdat die man net ʼn paar dae vantevore dieselfde medikasie by die apteek afgehaal het.
“Die apteker het die man gevra om die volgende dag terug te kom om die medisyne te kom afhaal,” het Hlathi gesê. “Hy het opgemerk dat die voorskrif deur ʼn dokter by die Rob Ferreira-hospitaal in Nelspruit onderteken is en het die hospitaal gebel om ondersoek in te stel. Die apteker is egter ingelig dat die spesifieke dokter drie weke gelede geskors is. Dit is toe dat hy die saak by die polisie aangemeld het.”
Hlathi het gesê polisiebeamptes het die man die volgende dag ingewag toe hy teruggekeer het om die medisyne te kom afhaal. “Die polisiebeamptes het hom ondersoek en vier voorskrifte met verskillende pasiënt-name by hom gekry, wat almal na bewering deur die geskorste dokter onderteken is,” het hy gesê.
Die man, wat as ʼn vakbondverteenwoordiger in Nelspruit werk, is in hegtenis geneem. Hy sal Maandag in die Lydenburg-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog.
Die polisieondersoek duur voort.
Die vakbondverteenwoordiger het seker gedink die Apteker is net so oppervlakkig tekort aan ik soos hyself.
Bells vir die Apteker.