Man vas oor vraestel wat uitgelek het

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

ʼn 52-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die matriekwiskundevraestel wat verlede maand in Limpopo uitgelek het.

Die Valke en departement van basiese onderwys het in ʼn gesamentlike verklaring gesê die verdagte het homself Dinsdag by die Giyani-polisiestasie oorgegee. “Die man sal na verwagting Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn op verskeie aanklagte waaronder diefstal.”

Die Valke se ondersoek na die voorval het hulle na Gauteng gelei waar talle mense verklarings afgelê het en die oorsprong van die uitlek van die vraestel na Limpopo teruggevoer het. “Die Valke se vinnige werk in dié geval is uiters prysenswaardig en toon die erns van die misdaad wat daarop gemik is om die integriteit van die eksamenproses wat die lewens en toekoms van meer as 700 000 jong mense raak te ondermyn.”

Volgens die verklaring sal die volle omvang van die voorval teen Vrydag bekend wees en sal diegene wat by die skandaal geïmpliseer is, in kennis gestel word dat hulle die vraestel weer moet skryf.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het vroeër die maand gesê ʼn leerder van Gauteng het die matriek-wiskundevraestel aan leerders in Limpopo uitgelek. Die leerder in Gauteng het die vraestel glo aan ʼn leerder in Limpopo gestuur om die antwoorde te probeer kry. Twee leerders aan Giyani High School het die vraestel verder op WhatsApp versprei voordat dit deur matriekleerders geskryf is.

ʼn Lewenswetenskappe-vraestel het verlede jaar ook in Limpopo uitgelek, ondanks veiligheidsmaatreëls wat die departement ingestel het.

Motshekga moes in 2014 die uitslae van 11 matriekeksamen-sentra in KwaZulu-Natal en sewe in die Oos-Kaap diskwalifiseer ná die grootste eksamenbedrogskandaal nog in Suid-Afrika waar groepe afgeskryf het. Streng maatreëls is ingestel om te verseker dat dit nie weer in die 2015-eksamen kan gebeur nie, het Motshekga in daardie stadium gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Uvonka ·

En dit is nou nuuswaardig! Dit is beslis nie die eerste keer wat dit gebeur nie en sal ook nie die laaste keer wees nie.

miv ·

Ja Uvonka, dit is nuuswaardig! Moenie jouself waag op die terrein van die joernalistiek nie. Dié is intelligente mense wat weet wat is nuuswaardig en wat die man op straat behoort te weet. Bly liewer stil indien jy nie ‘lewendige’ kommentaar kan lewer nie.

Uvonka ·

Dankie tog vir jou insiggewende kommentaar miv. Onnodig om so katterig te wees. Hou jy by jou opinie, ek volstaan by myne.

Jean ·

Al wat my bekommer is hoeveel vraestelle lek nie nog uit waarvan niemand weet nie? Daar is elke jaar vraestelle wat uitlek, hoeveel matrieks het nie al bv ‘n vak geslaag wat hulle nooit sou deurkom deur ‘n uitgelekte vraestel voor die tyd te bekom nie? Word almal altyd gevang of is dit net die ongelukkiges? Net ‘n vraag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.