Man vas oor vrou se liggaam in vlak graf

Die vlak graf in die plakkershut. (Foto: SAPD)

’n 32-jarige man sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Giyani in Limpopo verskyn vir die beweerde moord op sy vrou (53) nadat haar liggaam in ’n vlak graf in ’n plakkershut op die egpaar se erf aangetref is.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, sê inwoners van die Nwadzekudzeku- informele nedersetting het die egpaar Dinsdag omstreeks 21:30 hoor baklei waarna hulle onraad vermoed het toe daar die volgende dag geen beweging in die egpaar se erf opgemerk is nie.

Die inwoners het Donderdagoggend besluit om ondersoek in te stel en bloedvlekke deur ’n venster in die egpaar se huis opgemerk. Die inwoners het ’n slegte reuk vanaf ’n plakkershut voor die egpaar se huis gevolg waar hulle die deur oopgedwing en op die vlak graf afgekom het.

Die polisie is na die erf ontbied waarna ’n soektog na die man van stapel gestuur is. Die man het hom Vrydagmiddag aan die polisie in Malamulele oorgegee.

Hy staan tereg op aanklag van moord.

Mojapelo sê die motief vir die moord is in dié stadium onbekend hoewel gesinsgeweld nie uitgeskakel kan word nie.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die voorval veroordeel en bestempel as een van die gruwelikste misdade teen vroue.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.