Man vas oor vuurwapens, plofstof

Argieffoto

Die Valke het ʼn 65-jarige man aan die Oos-Rand in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens, handgranate, ammunisie, plofstof en gouddraende materiaal.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het gesê die inhegtenisneming volg ná ʼn ondersoek van vyf maande.

“Die Valke het inligting ontvang omtrent die verdagte wat glo in besit van onwettige vuurwapens en ammunisie was,” het Mulamu gesê. ʼn Soek-en-beslagleggingsoperasie in samewerking met die Springs-polisie, die honde-eenheid en die bomeenheid is Dinsdag by die man se huis uitgevoer.

“Die beamptes het beslag gelê op 16 haelgewere, ʼn rewolwer, 1,5 miljoen indiwiduele stukke ammunisie, verskeie soorte plofstof en handgranate.”

Die beamptes het ook gouddraende materiaal gevind wat gebruik word om goudstof te vervaardig. Die materiaal het ʼn geskatte waarde van R300 000.

Die man moet Donderdag in die Springs-landdroshof verskyn.

Die Valke se ondersoek duur voort om vas te stel waar die wapens vandaan kom en waarvoor dit beplan was om gebruik te word. Ballistiese toetse sal ook gedoen word om te bepaal of die wapens in ander misdrywe gebruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gawie de Beer ·

Wapens Meervoud sal gestuur word vir balistiese toetse om te bepaal ………. weet die persoon waarvan hy/sy praat?? Haelgewere se loop is nie gegroef nie hoe gaan “hulle” balistiese toetse uitvoer??

Marius ·

Gawie hulle kan balisties doen op ‘n haelgeweer elke vuurwapen het n unieke slagpen ook as hulle doppies op ‘n toneel gevind het kan hulle die slagpen vergelyk met haelgeweer min mense weet dit.

anton ·

Deur die slagdoppies te toets is hulle miskien 50% daar maar sonder n bevestigde patroon wat uit n loop kom wat groewe het, het hulle nie werklik n goeie bewys nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.