Man vas toe hy rioolstorting ondersoek

Argieffoto

Argieffoto

CW Els, ʼn gemeenskapskoördineerder van die burgerregte-organisasie AfriForum, moet eersdaags in die Petrus Steyn-landdroshof verskyn nadat hy van betreding aangekla is toe hy klagtes oor vermeende rioolstorting in dié dorp in die Vrystaat ondersoek het.

AfriForum het Dinsdag in ʼn verklaring gesê verskeie lede van die gemeenskap het dit onder sy aandag gebring dat daar moontlik onwettige rioolstorting plaasvind by ongebruikte oksidasiedamme in Petrus Steyn, wat deur die Nketoana-munisipaliteit beheer word.

Volgens Els het hy sy kommer oor die rioolstorting in ʼn brief aan die munisipaliteit geopper, maar teen Vrydag het die munisipaliteit nog op geen van sy vrae geantwoord nie. Hy wou hom gaan vergewis van die situasie.

“Ek het skaars by die oksidasiedamme stilgehou toe daar twee munisipale amptenare agter my parkeer. Een het uitgeklim en onmiddellik begin oproepe maak, terwyl die ander een geen van my vrae wou antwoord nie en gesê het ek moet maar vir die polisie wag.”

Els moet op 7 Mei, die datum van die nasionale verkiesing, in die hof verskyn op aanklag van betreding.

“Ek sal ons regspan raadpleeg oor die aangeleentheid. Die munisipaliteit hanteer hierdie saak bitter eienaardig, veral as hulle niks het om weg te steek nie. En dit is baie ironies dat ʼn munisipaliteit onder ANC-beheer my sal aankla, en ek op nasionale verkiesingsdag vir betreding voor die hof moet verskyn, omdat ek inligting probeer insamel oor swak dienslewering,” het Els gesê.

Maroela Media wag vir kommentaar van die polisie asook die munisipaliteit oor die aangeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.