Man vas vir bejaarde se hamerdood

Argieffoto: SAPD

ʼn 21-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op Anne Smith, ʼn 86-jarige vrou van Port Elizabeth wat op 28 Mei in haar huis in Kammapark met ʼn hamer aangerand is.

Smith het ongeveer vier weke later in ʼn hospitaal aan haar beserings beswyk.

AO Alwin Labans, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagte is Donderdagmiddag in Missionvale in hegtenis geneem. “Ons het niks van die goedere wat tydens die voorval gesteel is in sy besit gevind nie, maar hy is positief as een van die verdagtes uitgeken,” het Labans gesê.

Die verdagte is deur lede van die trio-taakspan onder leiding van kapt. Chris Rowan in hegtenis geneem. Hy sal Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord en huisroof.

Labans sê die polisie is steeds op die spoor van die tweede verdagte en hoop om binnekort nog ʼn inhegtenisneming te doen.

Maroela Media het vroeër berig ʼn buurman van Smith het op 28 Mei omstreeks 13:00 gesien hoe twee mans uit haar erf in Marthastraat spring. Hy het die verdagtes agternagesit en hulle het ʼn sak met waardevolle besittings, soos ʼn skootrekenaar en kameras, laat val.

Die buurman en ander inwoners is daarna na Smith se huis waar hulle haar in ʼn plas bloed op die vloer aangetref het. Sy is vermoedelik met ʼn hamer aangerand toe sy die mans betrap het terwyl hulle haar huis geplunder het.

Smith het saam met haar volwasse seun, wat doof en verstandelik gestrem is, gewoon. Hy is ongedeerd gevind, maar kon nie vir die polisie sê wat gebeur het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lienkie ·

Baie goeie werk trio-taakspan bly die moordenaar is aangekeer.

Susan de Bruyn ·

Wel gedaan Taak – SPAN. Ons het baie meer van julle in die mag nodig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.