Man vas vir Eskom-vrou se moord, gerugte wek kommer

Thembisile Yende

ʼn 43-jarige man het Maandag in die Springs-landdroshof verskyn in verband met die moord op Thembisile (Thembi) Lucia Yende (29).

Die verdagte, David Ngwenya (43), is verlede week in Carletonville in hegtenis geneem ná ʼn uitgebreide ondersoek deur die polisie.

Maroela Media het vroeër berig Yende se ontbinde liggaam is op 29 Mei in ʼn ongebruikte kantoor van Eskom se Pieterboth-substasie in Springs gevind. Werkers by die stasie het die polisie ontbied nadat hulle ʼn onaangename reuk in die geslote kantoor opgemerk het. Sy is op 17 Mei deur haar ma as vermis aangemeld nadat sy die dag nie van haar werk af teruggekeer het nie.

Die polisie het die vermistepersoonsaak na ʼn moordsaak verander toe daar later die week vasgestel is sy is vermoor. Kapt. Johannes Ramphora, woordvoerder van die polisie, het destyds gesê die nadoodse ondersoek toon Yende is verwurg. Sy het ook kneusplekke opgedoen wat die polisie laat vermoed dat sy en haar moordenaar moontlik in ʼn struweling betrokke was.

Die vakbond National Union of Metal Workers (Numsa) het Maandag die polisie se pogings met die inhegtenisneming van Ngwenya verwelkom. Ngwenya word aangekla van moord met voorbedagte rade. Die saak is tot Vrydag uitgestel. Hy bly in aanhouding.

Phakamile Hlubi, Numsa se woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê die vakbond hoop die nuwe verwikkelinge is die eerste stap om die Yende-familie te help om ʼn sin van regverdigheid vir haar moord te kry.

“Ons hoop die ondersoek sal tot ʼn suksesvolle vervolging van die beweerde oortreder lei en dat ʼn swaar vonnis vir die gruwelike misdaad opgelê sal word,” het Hlubi gesê.

“As die bewerings waar is dat Ngwenya ʼn senior toesighouer in die streek is, dan het Eskom as bestuur geen keuse as om volle verantwoording vir haar afsterwe te neem nie. Numsa sal aanhou om haar familie te ondersteun en druk op Eskom te plaas om die veiligheidsvoorwaardes van ons lede te verseker, veral dié wat gedwing word om in afgeleë gebiede te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

zoom zoom ·

Mag ek ook ‘n wag kry wat my kan oppas waar ek ookal gaan. Want niemand is veilig in sy blyplek of op straat. Belaglik al die bodyguard wat party versoek en ons moet dit betaal.

broos ·

hoe kan jy ‘n maatskappy verantwoordelik hou vir iets wat ‘n persoon gedoen het? ja die persoon was ‘n werknemer, maar die maatskappy het hom nie gedwing om die moord te pleeg nie? ek stem saam met veiligheidsmaatreels en dies meer, maar nie volle verantwoordelikheid nie.

Charlene beukes ·

Watse twak hoekom moet eskom bestuur vrandwoordelikheid vat het die man namens eskom die daad gepleeg waar is die beleid elke man is verandwoordelik vir sy eie dade ek reik weer geld maak reg wat krom is

Tanya ·

Ongelooflik! Hoe kan hulle Eskom verantwoordelik hou vir die dade wat sy werkers pleeg? Hoe belaglik is hierdie land nie!!!

Helen ·

Agge nee nou is ek heeltemal deur mekaar. Net in n berig hierbo word n meisie geboelie deur n seun. Alby het die skool se skoolklere aan? Die skool se hulle kannie verandwoordelikheid neem nie want dis nie op perseel nie? Nou wil hulle n werksplek aanvat want n persoon was nie veilig nie op die perseel nie? Nou waar trek n mes die streep?

Ramkat ·

Haai mense, werk julle lekker in jul kantore. Dit is n werkgewer se morele en wetlike PLIG om n veilige werk plek vir sy werknemers voorsien.
Stel julle voor.dat jou kantoor die.bymekaar kom plek is vir n klomp rampokkers met vuurwapens en wat geen respek het vir.mense lewens nie.
Dink jy regtig jy gaan lekker daar werk?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.