Man vas vir Kempton Park-moord

Argieffoto: Maroela Media

ʼn 40-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn man wie se liggaam verlede week deur ʼn plaaswerker aan die Oos-Rand aangetref is.

Kapt. Jethro Mtshali, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê ʼn volskaalse soektog is van stapel gestuur nadat die man, ʼn Mosambieker in sy laat 20’s, se liggaam Donderdag omstreeks 08:30 in ʼn veld langs die R23-snelweg in die Glen Marais-omgewing in Kempton Park gevind is.

Hy is verskeie kere in die bolyf en in die kop geskiet en sy hande en voete was ook vasgebind.

“Nadere ondersoek het aangedui dat die oorledene ʼn dag voor die tyd in Olifantsfontein ontvoer is, waarna sy voertuig gesteel is,” het Mtshali gesê. Die man is vermoedelik in die veld waar sy liggaam aangetref is, doodgeskiet.

Die polisie het die oorledene se voertuig in Tembisa opgespoor waarna die verdagte in hegtenis geneem is. “Tydens die ondervraging het dit aan die lig gekom dat die verdagte glo medepligtiges gehad het. Die soektog duur voort na dié verdagtes.”

Die man wat in hegtenis geneem is, moet binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, roof en ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.