Man vas vir Kroonstad-vrou se moord

Engelé Rossouw (regs) saam met haar sussie Zanelle Wessels (links) en hul ma (Foto verskaf aan Maroela Media)

Engelé Rossouw (regs) saam met haar sussie Zanelle Wessels (links) en hul ma (Foto verskaf aan Maroela Media)

ʼn 28-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op Engelé Rossouw (47), die bestuurder van die Shalom-gastehuis in Kroonstad, wat vroeër vandeesweek dood aangetref is in haar ouerhuis in dié Vrystaatse dorp.

Sers. Sam Gaobepe, woordvoerder van die polisie in Kroonstad, het aan Maroela Media gesê die polisie het dag en nag gewerk om alle leidrade na te spoor en die man is Vrydagoggend, net ná middernag, in Maokeng in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig Engelé het saam met haar ma in die huis gewoon, waar haar ouers al meer as 45 jaar lank bly.

Engelé se suster, Zanelle, het Woensdag aan Maroela Media gesê haar ma het Vrydagaand nog met haar sussie gesels. “Ons het die Saterdagmiddag ʼn SMS vir haar gestuur, maar niks van haar gehoor nie. Ek het haar die aand ook probeer bel, maar kon nie antwoord kry nie. Toe ons Sondagoggend nie ʼn ‘geseënde Kersfees’-SMS van haar ontvang nie, het ons onraad vermoed en die polisie in kennis gestel,” het Zanelle verduidelik.

Haar ma is vir die vakansie saam met Zanelle en haar gesin na hul strandhuis in Groot-Brakrivier in die Wes-Kaap. “Engelé kon nie saamkom nie. Sy wou in Kroonstad bly om na die gastehuis om te sien.”

Veiligheidswagte by die munisipaliteit in Mahokeng het intussen Sondag onraad vermoed oor ʼn wit Volkswagen Jetta wat by die kantoor geparkeer is.

“Die polisie het bevestig dit is my ma se motor en hulle wou die motor insleep na die polisiestasie om verder ondersoek in te stel en vingerafdrukke te neem. Hulle is na die huis om die motor se sleutel te gaan haal en het met ons toestemming by die huis ingebreek om die sleutel te kry. Daar het hulle op my sussie se liggaam afgekom.”

Rossouw se liggaam in die bad gevind. Sy het ʼn plastieksak oor haar kop gehad en is vermoedelik daarmee versmoor.

Volgens Zanelle het Engelé haar pajamas aangehad en haar hande en voete was ook vasgebind. “Die polisie beskryf dit as ʼn ‘skoon’ moord. Daar was geen geforseerde toegang nie en die moordenaar het weer alles na die tyd toegesluit. Omdat sy ook meer as 24 uur in die badwater was, is die meeste van die leidrade ook uitgewis.”

Twee selfone en twee skootrekenaars is gesteel.

Die gesin het Donderdag ʼn roudiens vir Engelé in Suiderkruis in Groot-Brakrivier gehou, aangesien al die familie daar was.

Die verdagte moet Dinsdag in die Kroonstad-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Die Koonstad-buurtwag het almal wat betrokke was by die ondersoek bedank vir die lang ure se werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

ekke ·

Goeie dinge gebeur nog. Hierdie mens is wreed weg!!! So so blerrie onnodig. Vat die goed, loop! Kon haar vasgebind gelos het..maar die doel was om haar eerder dood te maak. Dit was die groter plan. Mag die Here hierdie mens se geliefdes omvou van alle kante.

Yster ·

Soos baie ander gevalle wil dit vir my voorkom asof hierdie ook ñ geval van ” inside info and job” was. Maar dit bly tragies. So onnodig.

Cherokee ·

Ek haat die woord ‘onnodig’ want niks daarvan is nodig nie. So skei uit met die woord asof dit somtyds nodig sou wees. Dit is nooit nodig nie. Hou op daarmee.

Buitestander ·

Dit is ‘n slegte om so onverwags tot ‘n einde te kom.
Sterkte vir die familie en mag die here julle ryklik vertroos ni die moeilike tyd.

Justice ·

My innige simpatie en meegevoel met Engele se moeder en suster. Uitstekende speurwerk SAP en baie dankie vir die lang ure om `n suksesvolle arrestasie te kon maak.

elize naude ·

wat gaan aan daar by julle in SA? i nederland het zuma voor die europese unie gemeen die misdaad is nie so erg nie… wat ek hier lees klink vir my na burgeroorlog!

Jan S ·

Onthou nou, ons liewe president sukkel so bietjie met groot syfers…

WitBlits ·

Elize – dit is nie burgeroorlog nie en eerder volksmoord op ‘n volk wat nog nie opgestaan het nie!

GES ·

Hierdie moorde het baie dieper ondertone as net diefstal. Dit kan beskou word as volksmoord. Ons harte gaan uit na die familie en vriende in hierdie tyd van hartseer. Baie sterkte.

Faith ·

Hulle moet die doodstraf terug bring dalk Dan sal hulle op jou moor did omdat hulle weg kom met ligte vonnise

Johann Marx ·

Faith, doodstraf is nog nêrens in die wêreld bewys as ‘n afskrikmiddel nie. Dit is bloot ‘n manier om van ‘n krimineel wie se dade so onaanvaarbaar is dat ons nie weet wat om met hom of haar te maak nie, ontslae te raak. Die groot problem wat ons in hierdie land het is dat so ‘n persoon nie die vermoë het om die gevolge van sy dade in ag te neem terwyl hy daardie dade pleeg nie. Terwyl hy haar versmoor het, was sy denke net om haar stil te kry, sodat hy kan vat wat hy wil omdat hy dit wil hê, en sy ‘n “sagte slagoffer” is. Hy het nooit gedink dat hy gearresteer, verhoor, heel moontlik skuldig bevind kan word, en ‘n lang tyd in die tronk kan sit nie.

Quixilver ·

As die doodstraf terug kom sal die staat dit gebruik om ons wetiglik dood te maak en die inheemse etniese goed sal voor gesorg word in die tronk,

Mossie ·

Uitstekende speurwerk, maar so sal die misdadiger se lewe voortgaan al is dit agter mure en tralies. Aan die ander kant is geliefdes wat treur en finaal moet afskeid neem, verewig. Bitterlik onregverdig. Bring terug die doodstraf sodat die wat uitdeel kan ontvang ook. Ek voel verbitterd en beswaard.

J. Nienaber ·

My diepste meegevoel aan haar familie en vriende. Dit is so verskriklik wreed. Ek dink ook aan almal wat dag na dag hierdie verskriklike berigte moet lees, die sielkundige skade is onberekenbaar. Staan sterk, dit sal ook tot ‘n einde kom.

Onnodig ·

Sy (Cherokee) se kommentaar hier is onnodig oftewel dan nooit nodig.

Diana ·

“net na middernag gearesteer” dankie dat jul werk terwyl ons ander rusting slaap……..

Aiai ·

Stem saam met cherokee. Yster se kommentaar is onnodig en onsimpatiek!

Cherokee ·

Dankie Aiai. Het vir ‘n oomblik gewonder of ek te kras reageer het maar jy stem saam dat die woord ‘onnodig’ heel onnodig was. (en onvanpas.)

Bokkie ·

Zuma sal nooit die waarheid praat oor wat eintlik hier in RSA gebeur nie.Maar enige persoon wat in n ander land leef loop nie met oogklappe op nie.EN EK STEM OOK SAAM DAT ENIGE PERSOON SE DOOD ONNODIG IS!!!!

Jan maak n plan ·

Moet nooit vergeet nie. As Zuma sy mond oop maak dan lieg hy.

Danie ·

Waar is die ANC vroue liga se kommentaar nou. Hulle lewer net kommentaar as hulle kan voordeel trek vir die ANC uit die daad.
Ek sal maar my kommentaar self sensor en `n gedeelte van die waarheid terughou.

manie ·

Wat se die grondwet dat elke person in SA n reg het om in n veilige vreedsame samelewing te mag bly.As die grondwetlike regte nie nagekom word nie moet die President verantwoordeilk gehou word.Hoeveel keer moet hy nog faal in sy pligte voordat wit en swart mense in SA kan sien waste idioot ons as n president het.En die hele wereld lag saam vir sy nuwe jaars toespraak.

Waarheid ·

Vader in die Hemel..versorg die bedroefdes asb. Maak en help ons almal, om gereed vir die onverwagte te wees maar verlos ons ook asb van die BOSE. Asb Amen.

Drikus ·

Dit is ontsettend hartseer. Ons dink aan die familie, en kan maar net vertrou dat hulle vrede sal vind. Kan die wrede voorval nie lei tot ‘n grootse handevat inisiatief teen sulke misdade en die oplos van die oorsake daarvan nie, asseblief? Ek voel skuldig om net hieroor te praat. Wat kan ons eerder saam doen? Kom ons stig die Engelé-inisiatief.

Adrie Hoffmann ·

Dit is verskriklik – my innige meegevoel met die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.