Man vas vir massaskietery by Hillbrow-teater

Argieffoto

ʼn 33-jarige man is in hegtenis geneem ná die skietvoorval Sondag in die vroeë oggendure op konsertgangers by die Hillbrow-teater in Johannesburg waartydens een persoon dood en agt mense gewond is.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het sy inhegtenisneming Maandagaand bevestig.

“Die man is tans in die Thembisa-hospitaal waar hy onder polisiebewaking is. Hy was vermoedelik deel van ʼn groep van vyf verdagtes wat Sondag by ʼn gewapende rooftog by die Greenstone-winkelsentrum betrokke was, ure ná die skietvoorval by Hillbrow,” het Dlamini gesê.

Dlamini het gesê vyf rowers het omstreeks 09:00 by die winkelsentrum toegeslaan. Die polisie en veiligheidsbeamptes het die rowers agterna gesit. Die betrokke verdagte is by die sentrum aangekeer, maar sy vier medepligtiges kon daarin slaag om te ontsnap. “Die man het tydens sy inhegtenisneming beserings opgedoen en is na die Thembisa-hospitaal geneem vir behandeling.”

Daar is eers later vasgestel die man kan glo met die skietery by die teater verbind word.

Die man sal van moord, poging tot moord, gewapende roof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen aangekla word, sodra hy in die hof verskyn. Die polisie vermoed die man was ook betrokke by ander ernstige en gewelddadige misdade.

Maroela Media het vroeër berig die skietery by die Hillbrow-teater het omstreeks 02:15 plaasgevind.

“ʼn Orkes van Zimbabwe het daar opgetree toe ʼn man op die verhoog geklim het terwyl die orkes gespeel het. Hy het ʼn mikrofoon gegryp, gesê sy selfoon is gesteel en het gedreig om die orkes te onderbreek as hy nie sy selfoon terugkry nie. Hy het lukraak op konsertgangers losgebrand toe hulle probeer ingryp het,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.

Die skieter het ná die voorval op vlug geslaan.

ʼn 26-jarige man, vermoedelik van Zimbabwe, is op die toneel dood. Die beseerdes is deur paramedici na die Charlotte Maxeke-hospitaal geneem.

Gerard Bester, die teater se direkteur, het in ʼn verklaring gesê die bestuur en personeel by die teater is geskok en hartseer oor die traumatiese en gewelddadige voorval. Bester het bevestig die teater het Saterdagaand spasie aan ʼn onafhanklike vervaardiger verhuur. Van die mense wat opgetree het, is ook beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Coenraad ·

Was is die man n zimbabwiese burger ? En die wet bepaal as jy met n onwettige vuurwapen of ammunisie gevang word is die minimum vonnis 20 jaar gevangenisstraf indien hy n zimbabwiër is dan is hy net in SA om droog te maak soos disgrace mugabe.

Leahim ·

Dit klink goed maar gaan die polisie hom veilig kan aanhou totdat hy hof toe kan gaan.Die landros wat hom moet vonnis hoe bevoeg gaan hy of sy wees.? Die tronk waar hy sy straf gaan uitdien sou hy die een uit vyftig wees wat nie weens nalatigheid vry loop nie gaan oorbevolk wees en hy sal miskien n derde van sy vonnis uitdien.

Eish ·

Die boosheid neem hand oor voet toe in die land. Dit tier welig in die komposhoop waar die broeiende boosheid die verval bespoedig. Mens kan net n dankgebed opstuur elke dag wat jy gespaar om die lewenslig te aanskou. Ons Noordelike bure is besig om ons samelewing te verkanker.

Karma ·

Die man is van Zimbabwe – dit sê alles, som die hele misdaad-situasie in SA tans in vyf woorde op. Misdadiger = Zimbabwiër/Mosambieker/Malawiër/Zambiër/Nigeriër/Somaliër.

Anoniem ·

So vir hom is dit OK om deel te neem aan ‘n gewapende rooftog, maar as sy eie goed (selfoon) gesteel word, skiet hy sommer wild en wakker? Dubbele standaarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.