Man vas vir moord op bekende dokter se vrou

Karin en dr. A.P. (Dakman) Marais (Foto: Marais Dakman Karin, Facebook)

ʼn Man is Sondag in hegtenis geneem vir die moord op Karin Marais (57) op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap. Karin is die vrou van dr. Albertus Petrus (Dakman) Marais, ʼn welbekende dokter op dié dorp.

Kapt. Bradley Rawlinson, polisiewoordvoerder, het bevestig die 26-jarige man is Sondag in Graaff-Reinet aangekeer. Hy sal na verwagting Maandag in die landdroshof op die dorp verskyn.

Karin, dr. Marais en hul dogter is verlede Donderdagoggend omstreeks 06:00 in die gesin se huis in Somersetstraat in Graaff-Reinet aangeval.

Maroela Media het vroeër berig ’n struweling het tussen Karin en een van haar dogters, asook die aanvaller uitgebreek. Karin is in die linkerskouer gesteek en het later in ʼn hospitaal aan haar wonde beswyk.

Haar dood het skokgolwe deur die gemeenskap van Graaff-Reinet gestuur. Talle inwoners het hul medelye op Facebook betuig en haar geloof vir die ongelooflike gemeenskapswerk wat sy met soveel “geesdrif” in die dorp aangepak het.

Die Union High School in Graaff-Reinet sê op sy Facebookblad Karin was ʼn geliefde en gerespekteerde lid van die gemeenskap. Al vier Karin en dr. Marais se kinders, Elze, John, Imke en Mieke, het aan dié skool matrikuleer.

Karin het as voorsitter van die Union Preparatory en Union High se beheerliggame gedien en ook as lid van die skool se Eeufeeskomitee. Ten tyde van haar dood het sy die skool steeds as ʼn kurator van die UHS-ontwikkelingstrust gedien.

Volgens die skool het Karin leiding geneem in talle van die skool se projekte en fondsinsamelingsinisiatiewe.

Inwoners word uitgenooi om Dinsdag hul laaste eer aan Karin te betuig deur blomme, kaartjies of enige donasies buite die Marais-gesin se huis te gaan neersit.

ʼn Roudiens vir Karin word Dinsdag om 10:00 by die Karoo Community Church gehou en sal ook aanlyn regstreeks uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ovelia ·

Ek hoop nt di landros of regter laat hom nou nie meer uitkom nie. Polisie vang hul en hof los hul

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.