Man vas vir onthoofde liggaam in woonstel

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Man is Vrydag in hegtenis geneem op aanklag van moord nadat die polisie op sy meisie se onthoofde liggaam in sy woonstel in Kempton Park in Johannesburg afgekom het.

Volgens Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), het ʼn polisiebeampte gister die sakebuurt van dié Johannesburgse voorstad gepatrolleer toe hy inligting ontvang het van ʼn moontlike misdaad by een van die woonstelle in Wesstraat.

Die polisiebeampte het gevolglik omstreeks 12:00 saam met drie ander ondersoek by dié woonstel gaan instel waar hulle op die gru-vonds afgekom het. Die vrou se onthoofde liggaam het oor die bed gelê. Haar kop is in ʼn vrieskas elders in die woonstel gevind.

Die man (34) was nie ten tyde van die ontdekking by die huis nie, het Kgasago gesê.

Die polisiebeamptes het verneem dat die man by ʼn winkel verder af in die straat werk. Die man is daar in hegtenis geneem vir die beweerde moord op sy meisie.

Kgasago verduidelik dat die man se bure Donderdagaand gille vanuit dié woonstel gehoor het. Die bure het onraad vermoed aangesien die paartjie elke oggend saam na die winkel waar hy werk, stap. Die man het egter Vrydagoggend alleen werk toe gestap waarna die polisiebeampte se hulp ontbied is.

Die man is tans in aanhouding by die Kempton Park-polisiestasie. Hy sal na verwagting binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklag van moord, het Kgasago gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gawie ·

Kempton Park is nie in Johannesburg nie, maar val onder Ekurhuleni.

Suzie ·

Oplettende bure. So jammer hulle kon nie haar lewe red nie. Doodstraf het dringend nodig om weer heringestel te word

moeks ·

So jammer vir die vrou wat met haar lewe moes boet. Nog meer skokkend is die feit dat die bure gille en onaardse geluide vanuit die woonstel gehoor het die aand, maar niemand iets gedoen het om hulp te ontbied nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.