ʼn Man gaan na verwagting Maandag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg verskyn op aanklagte van die ontvoering en verkragting van ʼn 9-jarige meisie.
“Die 32-jarige man is Saterdag in Germiston in hegtenis geneem in verband met die vermeende misdrywe wat in Maart verlede jaar plaasgevind het,” het kapt. Mega Ndobe Sondag gesê.
“Die meisie se arms en bene was vir drie dae ná die vermeende ontvoering en verkragting vasgebind, totdat sy daarin kon slaag om haar self te bevry.”
Die polisie is sedert die voorval op die man se spoor en het verlede week ʼn wenk gekry dat die man in Germiston is, wat tot sy inhegtenisname gelei het. – SAPA