Man vas vir onwettige vuurwapens

Foto: SAPD

Foto: SAPD

ʼn 48-jarige man van Richardsbaai in KwaZulu-Natal is in hegtenis geneem vir die besit van ses ongelisensieerde vuurwapens nadat polisie ʼn wenk ontvang het.

Kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die Umlazi-misdaadintelligensie-eenheid en die Richardsbaaise blitspatrollie het op die man se woning toegeslaan en sy huis deursoek. Twee haelgewere, een .22-geweer, ʼn .303-geweer, ʼn .38 Special-rewolwer, ʼn pistool en 258 koeëls is gevind.

“Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit gebruik is om enige misdaad mee te pleeg,” het Naicker gesê. “Die verdagte sal binnekort in die Richardsbaai-landdroshof verskyn.”

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, het die polisielede geloof vir hul vinnige optrede om die verdagte vas te trek. “Dit is vir die polisie kommerwekkend om so ʼn groot hoeveelheid vuurwapens in die hande van een individu te vind. Ons hoop ons ondersoek sal aan die lig bring hoe hierdie vuurwapens in sy besit gekom het,” het hy gesê.

vuurwapen-koeels-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

En geen AK-47? Wel dan is hy nie ‘n misdadiger want die wapens lyk nie asof dit deel kan uitmaak van SA se moord- en roofbendes se gereedskap. Die wapens lyk vir my té ‘sag’ daarvoor.
Nou gaan ek bespiegel. Is dit vuurwapens wat geërf is en wat selfs sovêr kan teruggaan dat van hulle nooit regmatig (nie onwettig) geregistreer was in ‘n vorige eienaar se naam? Nou raak dit moeilik om eienaarskap te bewys.
Nou hoe het dit gebeur dat die persoon ‘weggegee’ is?
Bloot eenvoudig omdat die een wat polisie toe is en die aangeklaagde het moeilikheid gekry met mekaar. Die gevolg is dat die een toe besluit het “ek sal jou terugkry”.
Sou u hier lees en pa of oupa se erfstuk is by jou en nie ‘op jou naam’, gaan hoor maar liewer wat om te doen. Doen dit maar liewer want dit is nie die moeite werd om gevang te word.

Nico ·

Ek stem saam met bogenoemde teorie. Nog nooit gehoor van ‘n rooftog met ‘n .303 nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.