Man vas vir Worcester-moord

Argieffoto: Nico Strydom.

ʼn 21-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn jong man van Worcester.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, het Saterdag aan Maroela Media gesê puik speurwerk het tot die verdagte se inhegtenisneming in Zweletemba gelei, dieselfde gebied waar die 19-jarige slagoffer Vrydag vermoor is.

Maroela Media het vroeër berig die slagoffer het omstreeks 11:50 by mense in ʼn huis in Bodastraat gekuier toe drie onbekende verdagtes die huis binnegestorm het.

“Een van die verdagtes was met ʼn mes gewapen. Hy het direk op die slagoffer afgestorm. Die slagoffer het probeer vlug, maar sy voete is onder hom uitgeskop en hy het geval,” het Van Wyk gesê.

Die verdagtes het die slagoffer daarna met die mes gesteek.

Annine Siddall, woordvoerder van ER24, het gesê die slagoffer het drie steekwonde aan sy rug opgedoen. Hy was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het.

Die motief vir die moord word nog ondersoek.

Die verdagte moet Maandag in die Worcester-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Dankie vir die goeie nuus dat die skuldige gevang IS !

Gebruik asb. net daardie vernuf en spoed by al die ander misdaad en laat weet as die skuldiges gevang is !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.