Man vas wat bek-en-klouseer glo ‘willens en wetens’ versprei

(Argieffoto)

Die minister van landbou het die inhegtenisneming van ʼn afslaer verwelkom wat glo willens en wetens bek-en-klouseer in Limpopo versprei het.

“Die uitbreking van bek-en-klouseer in die provinsie het ʼn verwoestende uitwerking op die ekonomie van die hele land gehad en kos ʼn groot klomp geld, met die rooivleisbedryf wat die ergste geraak word,” het Thoko Didiza Woensdag gesê.

Sy het die polisie bedank vir hul spoedige optrede om die persoon, na wie daar in ʼn verklaring aanvanklik as ʼn boer en toe as ʼn afslaer verwys is, in hegtenis te neem.

Reggie Ngcobo, departementele woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word om meer duidelikheid hieroor te verskaf nie.

Volgens die departement het hy ʼn saak by die polisie aanhangig gemaak ná die verdagte verspreiding van die siekte. ʼn Persoon is gevolglik in hegtenis geneem vir die beweerde oortreding van die Wet op Dieresiektes. Die man het Maandag in die hof verskyn, waar die saak tot Maart vir verdere ondersoek uitgestel is.

Hy is intussen op borgtog vrygelaat.

Die departement sê die man het na bewering willens en wetens gesplete hoefdiere wat uit die bek-en-klouseer-beheergebied verskuif is ontvang, verkoop en toe weer verskuif.

Didiza het boere of ander kopers gevra om die departement te kontak as hulle enige inligting oor die onwettige verskuiwing van diere het, of as hulle bekommerd is dat hulle moontlik diere by die beskuldigde gekoop het.

Sy het ook weer die versekering gegee dat die departement alles moontlik doen om die siekte te beheer.

Die minister het verlede jaar reeds ʼn verbod op veilings landswyd geplaas. ʼn Groep boere bring op 24 Maart ʼn aansoek in die hof om dié besluit ter syde te laat stel.

Die getal plekke in Limpopo waar bek-en-klouseer bevestig is, het die afgelope week tot 16 toegeneem. Die departement het vroeër gesê die nuwe gevalle beteken nie dat die uitbreking aktief besig is om te versprei nie, maar is eerder ʼn teken dat die siektebeheerpogings doeltreffend is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Janee ·

As ‘n mens dit kan glo dan wonder ek net wat in mense se koppies aangaan>

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.