Man vas wat glo oor kaping lieg

blouligʼn 20-jarige man van Hillcrest in KwaZulu-Natal is in hegtenis geneem nadat hy glo gejok het oor ʼn kaping en diefstal waarby ses polisiebeamptes volgens hom betrokke was.

“Die man beweer dat hy op 23 April deur polisiebeamptes gekaap is,” het kol. Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, Woensdag gesê. “Die man het egter ʼn valse beëdigde verklaring afgelê.”

Die man het beweer dat hy en ʼn vriend in Kassierweg gery het, toe hulle flitsende blou ligte agter hulle opgemerk het en deur die beamptes afgetrek is. Hy beweer daar was ses beamptes in uniform wat in ʼn amptelike polisievoertuig gery het. Buiten dat hulle sy voertuig, ʼn VW Golf, “gekaap” het, beweer die man verder dat hulle sy horlosie, selfoon en baadjie gesteel het. Hy het die beweerde voorval die volgende dag by die Hillcrest-polisiestasie gaan aanmeld.

“Die polisie het die saak in ʼn ernstige lig beskou en dadelik speurders aangewys om dit te ondersoek,” het Naicker gesê.

Volgens Naicker het die speurders gou ontdek dat die man en sy ooggetuie oor die aand se gebeure gejok het. “Die man en sy vriend het wel die aand van 23 April in Kassierweg gery. Die Durban-polisie het hulle van die pad afgetrek, maar hy het glo weggejaag omdat hy ʼn aantal onbetaalde verkeersboetes het. Hy het later sy voertuig verlate in ʼn veld in Hillcrest gelos. Die voertuig is geskut en in veilige bewaring by die Durbanse Metropolisie.”

Die man is daarna in hegtenis geneem en van meineed en dwarsboming van die gereg aangekla. Die man moet binnekort in die Pinetown-landdroshof verskyn.

Volgens lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, sal die polisie nie toelaat dat mense met kriminele bybedoelings die polisie se naam deur die modder sleep nie. “Dit is ons werk om ʼn diens aan die inwoners van die land te verskaf én om hulle te beskerm,” het Ngobeni gesê. “Dit is steurend dat mense valse sake aanhangig maak en dan die polisie by voorvalle betrek wat glad nie plaasgevind het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Hierdie sogenaamde Diens, is tans die grootste georganiseerde misdaad sindikaat in die land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.