Man vas wat glo op polisiebeamptes skiet

(Foto: SA Polisie)

ʼn 33-jarige man het Maandag in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn op aanklag dat hy op polisiebeamptes geskiet het.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, het gesê die polisiebeamptes is Vrydag in Pata, Pietermaritzburg aangeval terwyl hulle op soek was na ʼn verdagte in verband met ʼn onverwante moord in Desember. “Menelisi Mnikathi (42) is op 26 Desember omstreeks 02:00 dood toe hy in Mageleni, Imbali met ʼn mes aangeval is. Hy is in die bors gesteek en is op die toneel dood verklaar,” het Gwala verduidelik.

Plessislaer-polisie het tydens die ondersoek na die verdagte se huis gegaan en hulself as polisiebeamptes geïdentifiseer. “Een van die persone in die huis het, met ʼn vuurwapen in sy hand, uit die huis gestorm en weggehardloop. Die polisiebeamptes het hom agternagesit en ʼn skietery tussen die beamptes en die verdagte het gevolg.”

Die verdagte is tydens die skietery in die been gewond. Hy is in hegtenis geneem en het ʼn ongelisensieerde vuurwapen en drie patrone in sy besit gehad. Hy staan tereg op aanklag van poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

ʼn Tweede verdagte, wat nog gesoek word in verband met die moord op Mnikathi, is steeds voortvlugtig.

“Die vuurwapen sal aan ballistiese toetse onderwerp word om te bepaal of dit tydens enige ander misdaad gebruik is,” het lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kettie ·

Verbasend dat hy nie sy ongelisensieerde wapen met die amnestie ingehandig het nie. Daar word egter van wettige wapeneienaars verwag om hul wapens in te handig waarmee geen misdaad gepleeg is nie!

Muffin ·

Kettie soos ek verstaan is die amnestie vir alle bevolkingsgroepe, maar die inhandiging van wapens is verpligtend vir net een bevolkingsgroep.

pan ·

Goeie werk,ek hoop en vertrou soos n kind dat die meerderheid polisie hulle werk sal begin doen en meer suksesvol sal wees as wat dit huidiglik die geval is.

Pieter ·

Ek sal graag wil weet ,van al die wapens wat kastig aan ballistiese toetse onderwerp word hoeveel is al aan ander misdaad verbind. Ek glo dit is n leun en dat die persone wat die toetse doen nie weet hoe dit gedoen moet word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.