Man vas wat glo Valke met dood dreig

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering verskeie dreigemente teenoor lede van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke) en senior regeringsamptenare gemaak het.

Die verdagte het aangevoer dat die amptenare kwansuis sou jok oor die nuwe koronavirus se bestaan in Suid-Afrika.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het in ʼn verklaring gesê die dreigemente is verlede maand gemaak waarna ʼn voorlopige ondersoek die owerhede na ʼn 58-jarige verdagte gelei het.

Die betrokke verdagte is Donderdag by sy vriendin se huis in Ratanda, suid van Heidelberg, in Gauteng in hegtenis geneem is.

Volgens Mogale het die verdagte glo ook aangevoer dat hy verantwoordelik is vir die dood van twee Valke-lede wat vroeër vanjaar in ʼn skietery met transitorowers doodgeskiet is.

Die verdagte sal na verwagting vandag (Maandag) in die landdroshof in Germiston op aanklagte van sameswering tot moord en intimidasie verskyn.

Verdere aanklagte kan nie uitgeskakel word nie. Die ondersoek duur voort, het Mogale gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.