Man vas wat hom glo as Valke-beampte voordoen

Argieffoto

ʼn 40-jarige man wat hom na bewering as ʼn Valke-ondersoeker voorgedoen het, sal vandag in die hof verskyn op aanklag daarvan dat hy hom as ʼn wetstoepasser voorgedoen en slagoffers afgepers het.

Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê dié is net een van talle voorvalle waarvan die spesialiseenheid bewus is waar swendelaars hulle na bewering as Valke-beamptes voordoen.

“Dié verdagte se inhegtenisneming het gevolg twee maande nadat die Valke verskeie klagtes van verskillende regeringsbeamptes en sakemense ontvang het oor individue wat hulle as Valke-ondersoekers op vlakke van kolonels, brigadiers, en generaal-majoors voordoen. Dié individue pers mense af vir groot bedrae geld om dossiere of dokumente te vernietig in sake waarby hulle betrokke is of wat teen hulle ondersoek word,” sê Mulaudzi.

“Die meeste slagoffers is mense wat wel deur die Valke ondersoek word. Een van hierdie slagoffers is ʼn sakeman van Johannesburg. Hy is na bewering genader deur iemand wat homself voorgestel het as genl.maj. Moodley van die Valke in Bloemfontein.

“Nadat die Valke hierdie inligting ontvang het, het ʼn uitgebreide ondersoek gevolg wat gelei het tot die inhegtenisneming van ʼn man van Honeydew in Johannesburg. Hy is Vrydag vasgetrek.”

Mulaudzi sê die modus operandi van hierdie voorvalle behels telefoonoproepe en teksboodskappe wat gestuur word aan mense wat deur die Valke ondersoek word. Verskillende bedrae geld word geëis om glo “saakdossiere te vernietig”.

“Baie van die slagoffers was onbewus dat dit ʼn slenter is, omdat die swendelaars selfs die Valke-kenteken as hul WhatsApp-foto sou plaas en die besonderhede van werklike bankrekeninge sou verskaf,” sê Mulaudzi.

Hy sê afgesien van die beskuldigde wat vandag in die Krugersdorp-landdroshof sal verskyn, is ander ondersoeke na soortgelyke sake reeds op gevorderde stadium en word nog inhegtenisnemings binnekort verwag.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie slagoffers van hierdie soort slenters te word nie en enige sulke voorvalle by die betrokke owerhede aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willehond ·

Dalk n valk wat n arend geword het? Dis alledaags in ons land!

Pvt ·

Advokate gee inligting uit.
Een van die grootste “ring leader” is nogal ‘n vrou maar word beskerm in binne kringe…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.