ʼn 21-jarige man van KwaZulu-Natal is Woensdag in hegtenis geneem nadat hy glo sy 17-jarige meisie ontvoer en vermoor het.
“Die ma van die tienermeisie het Maandag omstreeks 17:30 by hul huis in Phoenix, buite Durban, aangekom en gesien die hek van die huis staan oop,” het kapt. Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder, Donderdag gesê. “Sy het bloedmerke gesien wat vermoedelik met ʼn mop opgevee is. Daar was ook ʼn gebreekte pan en drie glase op die toneel.”
Die vrou kon nie haar dogter, Kameera Rajbansi, opspoor nie en haar selfoon was in die huis. Sy het onraad vermoed en die saak by die polisie aangemeld.
Die tienermeisie se vriend is Woensdag in verband met haar ontvoering in hegtenis geneem, waarna hy die polisie na haar liggaam in ʼn nabygeleë suikerrietveld in Glen Anil geneem het. Sy is daar in ʼn poel water aangetref. “Die man het erken dat hy sy meisie aangerand, vermoor en haar liggaam daar gestort het,” het Zwane bygevoeg.
Die man sal na verwagting Donderdag in die Verulam-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering en moord. -SAPA