Man vas wat meisies glo deur Facebook lok, verkrag

Foto: Pixabay

ʼn 32-jarige man is in hegtenis geneem op verskeie aanklagte van verkragting nadat hy glo talle meisies en jong vroue deur sosiale media gelok het met die belofte van werk as ʼn model.

Die verdagte is Dinsdag in hegtenis geneem nadat ʼn 17-jarige meisie glo in Queenstown verkrag is en ʼn saak in dié verband Maandagmiddag by die Queenstown-polisiestasie aanhangig gemaak is.

Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, voer die 17-jarige meisie aan dat sy ʼn advertensie op Facebook gesien het rakende fotosessies vir jong meisies wat as modelle wou werk. Sy het belangstelling in die advertensie getoon en is versoek om Maandag om 14:00 vir ʼn fotosessie op te daag.

“Sy en die verdagte was alleen tydens die fotosessie nadat ander meisies daar weg is. Hy het die meisie toe glo verkrag.”

Ná verdere ondersoek het die polisie vasgestel dat die verdagte talle Facebook-profiele het en dat hy gereeld oor die hele land gereis het. “Hy het in talle dorpe geadverteer om jong meisies te lok om op te daag vir fotosessies waarna hy hulle verkrag het.”

Die polisie kon daarin slaag om die verdagte se identiteit vas te stel en volgens Kinana was daar reeds talle verkragtingsaanklagte teen hom. “Die verdagte is in hegtenis geneem terwyl hy van Umtata na King William’s Town onderweg was.”

Volgens Kinana was die verdagte in besit van ʼn doktersbrief wat hom in staat gestel het om te reis ingevolge die afsonderingsregulasies. Hy is ook in besit gevind van ʼn skootrekenaar, kamera, geheuekaarte en ʼn selfoon.

“Die polisie is van mening dat daar verskeie sake teen die verdagte is of ondersoek word deur ander stasies oor die hele Suid-Afrika heen.”

Enigiemand met inligting oor die verdagte of wat ʼn saak teen hom aanhangig wil maak, word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Vizicelo Ludidi, by 071 352 5252 te bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Ouers moet maar eerder hul kinders vergesel na sulke fotosessies. Mens kan ongelukkig niemand meer vertrou nie, daar is siek mense daar buite.

Amee ·

Hoe gee enigiemand inligting oor die verdagte as daar geen naam of foto is vir uitken doeliendes nie.

Sarel ·

My simpatie asn die slagoffers. Mag dit egter vir ander ‘n les wees insake Sodiale Media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.