Man vas wat polisielid vermoor, uit selle ontsnap

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

ʼn Man, wat Vrydag ʼn 57-jarige adjudant-offisier vermoor en toe uit die polisieselle in Mutale in Thohoyandou, Limpopo ontsnap het, is weer in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig die beampte het gereeld die selle besoek en is deur die verdagte aangeval wat hom verskeie kere met ʼn skerp voorwerp gesteek het. Die verdagte het die sleutels by die oorledene afgeneem en toe geld uit die kluis gesteel voor hy ontsnap het.

Die adjudant-offisier is uitgeken as Mmbulaheni Ronald Mulanduli.

“Die verdagte se 36-jarige oom het hom na ʼn tradisionele geneser geneem. ʼn Span ondersoekbeamptes het inligting ontvang en Sondagoggend toegeslaan. Die verdagte en sy oom is in hegtenis geneem,” het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die polisie het beslag gelê op die vermeende moordwapen, die sleutels en geld wat uit die kluis gesteel is.

“Die oom staan tereg op aanklag van dwarsboming van die gereg. Die 22-jarige verdagte sal, bykomend tot die aanklagte van verkragting, ontvoering, en oortreding van ʼn beskermingsbevel waarop hy aanvanklik in hegtenis geneem is, ook tereg staan op aanklag van moord, ontsnapping uit aanhouding en roof.”

Die verdagte was, met sy inhegtenisneming Vrydag, reeds uit op borgtog van R4 000 vir ʼn kaping wat in Januarie vanjaar plaasgevind het.

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Mutale-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefan

Sal waarskynlik weer borg kry?

Sarel

M.A.W
Was hy nie uit op borg nie on ‘n moord voorkom gewees het. Tradisionele geneser= Sangoma

Hennie J

Welgedaan SAPS. Die feit dat hy die AO kon oorweldig beteken maar net weer dat iemand nie hulle werk behoorlik gedoen het nie. Stem saam met Stefan dat hy seker weer borg sal kry want hy het mos bewys hy het regte.

Frederik C

Hierdie keer sal hy moet hoes. Borg sal seker R 6000 wees.

ES

Die vraag bly – hy is ‘n gewelddadige misdadiger – HOE kry hy borg???