Man vas weens KZN-plaasmoord

Terrence "Terry" Rizzato. Foto: Facebook

Terrence “Terry” Rizzato. Foto: Facebook

ʼn 29-jarige man is in hegtenis geneem weens die moord op Terrence “Terry” Rizzato wat onlangs op sy plaas, Mashonisa, naby Hluhluwe in KwaZulu-Natal doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig Rizzato is op 24 Februarie op sy plaas vermoor.

Ses verdagtes het die plaas omstreeks 19:00 betree en die werkers met vuurwapens aangehou en gedreig. Die verdagtes het die werkers by ʼn kamer ingedwing en hulle van hul selfone beroof. Die verdagtes is daarna na Rizzato se huis waar hulle hom in die bors geskiet het. Hy is op die toneel dood verklaar. Die verdagtes het ʼn onbekende hoeveelheid kontant in die huis gesteel en met Rizzato se bakkie van die toneel gevlug.

Kol. Jay Naicker, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê beamptes van die Hluhluwe-polisie werk sedert die voorval onverpoos om Rizzato se moord te ondersoek.

“Die polisie het ʼn deurbraak gemaak en Dinsdag een van die ses verdagtes vasgetrek,” het Naicker gesê. “Die verdagte word aangekla van moord en roof. Hy moet op 17 Maart in die Hluhluwe-landdroshof verskyn.”

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale kommissaris, het gesê die polisie is vol vertroue dat die ander vyf verdagtes binnekort aangekeer gaan word. “Ons sal seker maak dat hulle die volle mag van die gereg voel,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.