Man ‘vasbeslote om deur te druk’ ná kleinhoewe-aanval

Jonty Jacobs en sy verloofde, Doreen Lubbe. Foto: Verskaf

Die Pretoriase pa wat verlede week op ʼn kleinhoewe in die Kameeldrift-omgewing in Gauteng geskiet is, is dié week vanuit die waakeenheid na die hoësorgeenheid van die Steve Biko- akademiese hospitaal oorgeplaas omdat hy volgens dokters teen ʼn indrukwekkende pas herstel.

Jonty Jacobs (28), sy verloofde, Doreen Lubbe, en Jonty se sesjarige dogtertjie is verlede week Woensdag in die vroeë oggendure deur verdagtes in hul huis oorval. Jonty het die aanvallers teëgekom en is in die bors geskiet. Die aanvallers het met onder meer selfone en ʼn televisie van die toneel gevlug.

Danie Jacobs, Jonty se pa, vertel Dinsdag aan Maroela Media sy seun is dié week van asemhalingsmasjiene afgehaal danksy die goeie vordering wat hy maak. “Dokters is uit die veld geslaan,” sê hy.

“Sy kop is ongelooflik sterk, hy is vasbeslote om deur hierdie ding te druk. Die tye wat hy nie kan slaap nie, gebruik hy om sy longe te oefen om sodoende die kapasiteit van die organe weer te verhoog. Hy is positief en gee heeltyd sy samewerking. Hy gesels met ons en glimlag selfs van tyd tot tyd.”

Dokters het glo vasgestel die koeël, wat deur een van Jonty se longe is en toe ʼn werwel getref het, het skade aan albei longe aangerig. “Die linkerlong het die meeste skade opgedoen. Bykans 10 cm van die long was heeltemal vergruis, maar dokters meen dit lyk asof die long ook nou besig is om self te herstel. Dis wonderlike nuus waaroor ons baie dankbaar is,” sê Jacobs.

Jacobs sê Jonty is steeds verlam in sy onderlyf. Dokters het volgens hom geen fisioterapie-oefeninge voorgeskryf nie omdat daar nog baie swelling rondom sy rugmurg is. Volgens Jacobs wil dokters in dié stadium geen kanse waag om hom permanente skade aan te doen nie.

Jonty Jacobs. Foto: Facebook

“Ons weet nog nie wat die permanente skade gaan wees nie. Ons hoop dat dokters hom vanaand sal besoek om ʼn prognose te maak. Die besering is ongelukkig van só ʼn aard dat daar ʼn kans is dat hy nie weer sal kan loop nie. Ek is maar baie stil in hierdie stadium; soveel dinge gaan deur my kop. Sou dit wel so wees dat hy nie weer sal kan loop nie, gaan baie aanpassings gemaak moet word. Ons hoop dis nie die geval nie.”

Jacobs sê Jonty se sesjarige dogtertjie het reeds berading ontvang en is glo geskeduleer om nóg sessies by te woon. Sy is volgens die familie erg getraumatiseerd deur die voorval. Hy sê die res van die familie het nog nié beradingsessies bygewoon nie. “Ons sit baie en gesels in die aande ná besoektyd en ondersteun mekaar. Doreen is ook maar baie emosioneel; ons almal wil hierdie moeilike tyd agter die rug probeer kry. Ek dink in elk geval ons almal se koppe is nou so in ʼn warboel dat ons nou glad nie by berading sal kan baat nie,” sê hy.

Die familie wil elkeen bedank vir hul boodskappe van bemoediging in dié moeilike tyd, sê hy. “Die ondersteuning wat ons kry is ongelooflik. Ek het in hierdie laaste paar dae opnuut besef hoe magtig ons Almagtige God is en wat die krag van gebed is. Dit is ongelooflik hoeveel geliefdes, vriende en mense op sosiale media ons ondersteun. Hulle is op die ou end maar die mense wat ons hierdeur dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

elizabeth ·

Ek het geweet hy gaan dit maak. Jy kan sien dit is ‘n vasbeslote jong man!

Ekke ·

Here, baie dankie vir hierdie wonderwerk. Ek bid dat U Jonty sal help om ook weer te kan loop soos voor die aanval. Ek bid dat on land sal ophou bloei en ek vra U Here, asseblief, ek smeek U, dat U sal gee dat almal in die buiteland kan sien hoe siek SA is en dat hulle dieslefde kwotas daar moet stel soos wat dit was met apartheid. Here ek vra U help hierdie familie en elke ander familie wat aal deur so iets is. Here, net U alleen kan dit doen want niemand wil na ons wat nietig is luister nie. Help asseblief Jonty se vrou en dogtertjie en Here LAAT HOM ASSEBLIEF WEER LOOP. Amen, Amen en amen

Belinda ·

Fantasties ek glo hy sal weer loop.
Die Here is saam met julle dink aan julle……………..

James ·

Jonty hoop jy sterk gou aan God is met jou en jou familie…..ek bly ook in die selfde area en dit het my oe oop gemaak om my eie familie stywer en veiliger te hou…!

PJC ·

Ek hoop hierdie jongman herstel volkome en dat hy weer normaal sal kan loop. Hy is ń voorbeeld vir baie van ons. As almal van ons so positief en vasberade is sal hierdie gemors ons nie onder kry nie.

Sussie ·

Dankie onse ALMAGTIGE GOD wat hierdie jong man deur trek en sy denke positief hou, DANKIE vir sy moedigheid om te veg en te herstel vir sy geliefdes en sy dogtertjie.
Jonty ons bid vir jou en aanhouer wen!!!!!!!! sterk wees dierbare jong man.

Adele ·

Jonty en Doreen ons bid vir julle in die moeilike tyd. Mag Jesus julle en klein poppelief styf vashou en Jonty ten volle genees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.