Man vasgetrek in motor met dwelms

ʼn 44-jarige man sal Dinsdag in die Prins Albert-landdroshof verskyn nadat hy glo met dwelms ter waarde van meer as R4,1 miljoen betrap is.

Volgens sers. Christopher Spies, polisiewoordvoerder, is die man se Toyota Corolla Vrydag tydens ʼn padblokkade op die N1 naby Leeu-Gamka van die pad af getrek.

“Die motor is deursoek en ʼn polisiehond het op ʼn groot hoeveelheid tik afgekom wat in ʼn kompartement agter die agterste sitplek versteek was.

“Daar is op die dwelms beslag gelê en die bestuurder is in hegtenis geneem.”

Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile, het die SAPD-lede sowel as verkeersbeamptes wat by die vonds betrokke was, geloof.

“Die uitwissing van dwelmhandel langs toegang- en uitgangroetes van hierdie provinsie sal onverpoosd voortgaan terwyl ons daarna streef om dwelms uit ons gemeenskappe te verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.