Man veg om lewe ná gasbottel ontplof

Faan Schutte. Foto: Facebook

Faan Schutte. Foto: Facebook

Die man van Vanderbijlpark wat verlede week erge brandwonde opgedoen het nadat ʼn gasbottel in sy gesig ontplof het, is aan ʼn asemhalingsmasjien gekoppel terwyl hy veg teen ʼn longinfeksie in die waakeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal.

Carla Schutte het Vrydag aan Maroela Media gesê haar man, Faan (63), is hierdie week na die Netcare Milpark-hospitaal oorgeplaas omdat die Mediclinic Emfuleni-hospitaal in Vanderbijlpark nie ʼn brandeenheid het nie. “Ek het net gevoel omdat Milpark ʼn eenheid het wat spesifiek na brandpasiënte omsien, kan hy daar in isolasie geplaas word waar sy kans om infeksies op te doen baie minder is,” het sy gesê.

Faan het erge brandwonde aan sy gesig, bolyf, bene, arms en hande opgedoen toe ʼn gasverwarmer by ʼn vriend se huis ontplof het. Carla het vroeër vertel dat hy die gasbottel van die gasverwarmer wou toedraai, toe die bottel onverklaarbaar in sy gesig ontplof het. Die reuse-ontploffing het veroorsaak dat ʼn ander gasbottel elders in die huis ook ontplof het en die huis byna heeltemal afgebrand het.

Faan Schutte kort na die ongeluk. Foto: Facebook

Faan Schutte kort na die ongeluk. Foto: Facebook

“Toe ons Maandag met hom by Milpark aankom, het hy gesukkel om asem te haal en ʼn skandering het getoon dat hy erge infeksie in sy longe het. Die dokters het besluit om hom onder verdowing en op ʼn asemhalingsmasjien te plaas sodat hulle die infeksie kan behandel,” het Carla gesê. “Niemand word nou meer by hom toegelaat behalwe ek en sy kinders nie en wanneer ons by hom is, moet ons handskoene, maskers en voorskote dra.”

Volgens haar is daar nie nou sprake van veloorplantings nie, aangesien Faan se wonde eers so ver as moontlik moet genees. “Hierdie gaan ʼn baie, baie lang pad wees. Dis nie net van ʼn paar dae in die hospitaal nie. Dit sal maande se herstel verg,” het ʼn ooglopend moeë Carla gesê. “Ten minste is hy nou onder verdowing en het hy nie pyn nie.”

Sy het gesê daar is nog nie enige verduideliking wat die gasbottel laat ontplof het nie. AfriForum het intussen tydelike verblyf aan die eienaar van die huis voorsien terwyl die voorval ondersoek en die huis oorgebou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Canned Phantom ·

@JoeV – Klink altevol na asetileen. Ek het nog nooit gehoor dat LPG sekondêre ontploffings veroorsaak in gasbottels in ander vertrekke nie. Asetileen is sensitief vir skokgolwe en word juis baie spesiaal verpak en vervoer om daardie rede. Wonder of hulle nie dalk die LPG bottels met asetileen (wetend of onwetend) gevul het nie? Die ondersoek sal hopelik dit kan wys.

Lynette ·

Wanneer ek my kleiner gasbottels neem word my eie bottels vir my volgemaak. Toe ek egter my splinternuwe gasbottel van my nuwe verwarmer neem, moes ek n ou, reeds gevulde, gasbottel in sy plek neem. Waarom? Is die ou bottel nie meer gevaarlik nie?

Canned Phantom ·

@Lynette – Lynette die gasindustrie se normale reëling is dat jy die bottels omruil. (9, 19, 48 en groter) Dit gee hulle kans om die bottels na te gaan vir roes en ander skade voor hulle dit vul. Jy mag aandring daarop om jou eie bottel te laat vul, maar min plekke gaan dit dadelik vir jou doen. Hulle ruil eerder direk om. As jy bereid is om te wag sal hulle jou bottel vir jou vul.

Lynette ·

Dankie @ Canned Phantom. Het dit nie gweet en is nou my nuwe bottel kwyt.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.