Man veg om lewe ná gru-ongeluk

Wian Erasmus saam met sy hond, Minja. (Foto: Verskaf)

ʼn 24-jarige man van Mountain View in Pretoria veg tans om sy lewe in die Life Eugene Marais-hospitaal nadat hy Sondagoggend in ʼn gru-motorongeluk betrokke was.

Wian Erasmus is meters ver uit ʼn Nissan Micra geslinger toe dié motor, waarin hy ʼn passasier was, Sondag omstreeks 04:30 van ʼn brug in Mootstraat afgerol het.

Erasmus se verloofde en ʼn vriend van die paartjie is ook in die ongeluk beseer, maar is tans in ʼn bestendige toestand in die Steve Biko-hospitaal.

Volgens Erasmus se suster, Lilly Booyjens, is haar broer in ʼn koma en aan ʼn ventilator in die intensiewesorgeenheid gekoppel.  ʼn Drukskroef sal Donderdag in sy skedel geplaas word om die drukking op sy brein te monitor.

“Hy het reeds ʼn operasie ondergaan om ʼn gat in sy lewer te herstel wat deur ʼn gebreekte bekken veroorsaak is. Die gebreekte bekken kon egter net gedeeltelik herstel word aangesien hy te swak was en die operasie gestaak moes word. Die dokters moes hom op die operasietafel bybring nadat sy hart gaan staan het.

“Sy longe het platgeval en hy het nog steeds dreineringspype in albei longe.”

Wian Erasmus is meters ver uit ʼn Nissan Micra geslinger. (Foto: Verskaf)

Erasmus het ook verskeie ander beserings opgedoen, waaronder ʼn gebreekte skouer. ʼn Vollyf-MRI-skandering het ook gewys dat hy altesame 15 gebreekte ribbes het.

Volgens Booyjens is dit nog te vroeg om te sê of daar langtermynskade soos verlamming sal wees.

Sy sê haar broer het wel sedert Donderdag verbetering begin toon.

“Sy bloeddruk begin nou self verbeter en dokters sê hulle gaan die adrenalien verminder. Sy bloeddruk was aanvanklik verskriklik laag.

“Ons glo en bid dat hy volkome sal herstel.”

Booyjens sê hoewel haar broer mediese versekering het, kan dit nie naastenby al sy mediese uitgawes dek nie.

“Hy is tans ook op dialise en sal vir meer as vyf sessies moet gaan. Dis verskriklik duur.”

In die lig hiervan het die gesin ʼn Back-a-Buddy-fonds gestig om met mediese onkoste te help. Enigiemand kan ʼn bydrae op dié platform maak.

“Ek glo die Here gaan hom hierdeur dra. Hy is ʼn groot man met ʼn klein hartjie – ʼn werklike omgeemens. Hy sal sy laaste besittings vir ander gee.

“Ek kan nie wag om hom net weer ʼn druk en ʼn soen te gee nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Die eerste woorde wat ek raaklees is 4h30 in die oggend. Onverantwoordelik en seker nog dronk boonop. Ons is so maklik om te oordeel al weet ons niks van wat werklik die situasie was nie. Ek skaam my morsdood vir myself.

Chantel ·

Dit is presies dit. Ergste is dat mense sommer opinies lewer sonder om alle die feite te weet.

Sêmanet ·

Dis merkwaardig dat enige iemand lewend uit daai kar kon kom. Sjoe, baie sterkte en beterskap vir jul almal wat in die kar was.

Ontnugterde senior ·

Ek sou so graag wou help maar het self kinders wat finansieel sukkel om kop bo water te hou. Ek sal egter vir julle bid. Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.