Man verbeur borgtog van R700 000

Sambulo Bruce Tshabalala (Foto verskaf deur die Valke)

Sambulo Bruce Tshabalala (25), wat twee keer versuim het om in die hof te verskyn op aanklag van bedrog, korrupsie en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, het sy gesamentlike borgtog van R700 000 aan die staat verbeur.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê Tshabalala, ook bekend as Mshengu, is voorheen in twee sake vrygelaat op borgtog van onderskeidelik R200 000 en R500 000. “Hy het op 6 Maart versuim om by die Witbank-landdroshof op te daag en verlede week Vrydag by die Middelburg-landdroshof. Die gekombineerde bedrag van die borgtog wat betaal is, is intussen aan die staat verbeur.”

Tshabalala is aanvanklik verlede jaar in September in hegtenis geneem ná ʼn ondersoek deur die departement van binnelandse sake oor sy status in die land. Hy wou glo die ondersoek omverwerp deur omkoopgeld van R50 000 aan ʼn beampte van die departement oor te betaal. “Die man is dadelik in hegtenis geneem ná die oorbetaling gemaak is. Sy motor is ook in daardie stadium geskut en hy is vrygelaat op borgtog van R200 000 hangende verdere ondersoek,” het Sekgotodi bygevoeg.

Terwyl hy op borgtog vrygelaat is, wou Tshabalala in Februarie vanjaar glo ook ʼn polisiebeampte in Middelburg omkoop om sy motor terug te kry en sy saak te laat verdwyn. Hy het R120 000 omkoopgeld betaal. “Hy het R50 000 as ʼn eerste betaling gemaak en toe hy later R70 000 oorbetaal, is hy in hegtenis geneem. Hy is daarna in die Middelburg-landdroshof vrygelaat op borgtog van R500 000 en moes op 13 Maart 2020 weer in die hof verskyn. Hy het besluit om nie op te daag nie en twee lasbriewe vir sy inhegtenisneming is uitgereik.”

Die Valke het ʼn selfmoordbrief ontvang wat hy aan sy vrou gestuur het waarin hy beweer hy gaan sy eie lewe neem. “Enigiemand met inligting oor waar Tshabalala hom bevind word versoek om kol. Daniel Hall te kontak by 071 481 3281 of kapt. Dietlof Meyer by 071 481 2977. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Kobus ·

Wonder watse besigheid besit hy om sulke bedrae aan borgtog te spandeer.My besigheid word volgens al die wette/regulasies bedryf,dus sal ek sal maar moet sit indien ek vir een of ander oortreding gevang sou word.

Vlooi ·

Skuus op verkeerde berig kommentaar geplaas. Wat ek wil weet is waarmee verdien hy hierdie baie geld. Sluit toe en gooi weg die sleutel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.