Man verdrink aan Suidkus

Argieffoto: Andrew Ingram / NSRI

ʼn Man het die naweek verdrink nadat hy deur ʼn seestroom aan die suidkus van KwaZulu-Natal meegesleur is.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ooggetuies hul span by Shelly-strand omstreeks 16:00 Saterdag ingelig van ʼn verdrinking wat besig was om plaas te vind by Fig Tree-strand, tussen Southbroom en Ramsgate.

Volgens die stasiebevelvoerder van Shelly-strand, Jeremiah Jackson, het die NSRI se reddingswemmers, die polisie se soek-en-reddingseenheid, lewensredders en Med-Evac-ambulansdiens almal op die noodoproep gereageer.

“Soos ons verstaan is die man (39) van Kwanzikwa naby Port Edward, deur ʼn seestroom meegesleur toe hy tot by sy middellyf in die water was,” sê Jackson. Volgens hom was lewensredders eerste op die toneel en het hulle die man met hul reddingsborde in die see bereik en hom na die strand gebring.

“Hier het paramedici ongelukkig die man as dood verklaar.”

Jackson sê die polisie sal ʼn nadoodse ondersoek doen na die voorval en medelye is oorgedra aan die familie en vriende van die oorledene.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.