Man verdrink by Hermanus

Argieffoto van Fick’s Pool (Desember 2019) (Foto: Ficks/Facebook)

ʼn Man het Saterdag by Fick’s Pool by Hermanus in die Wes-Kaap verdrink.

Andre Barnard, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die organisasie is Saterdagmiddag omstreeks 16:30 ontbied ná berigte van ʼn verdrinking by Fick’s Pool.

“ʼn Man het in die water gespring voor hy in die moeilikheid beland het,” het Barnard gesê. Die seevaartuig Maritimus is geloods en NSRI se reddingswemmers, SAPD, Wes-Kaapse departement van gesondheid, Hermanus Protection Services en CMC-ambulansdiens het reageer.

“ʼn Plaaslike man, ʼn lid van die Hermanus-buurtwag en ʼn voormalige NSRI-vrywilliger, het in die water ingegaan om die man te help en lewensredders het hom bygestaan. Hulle kon die man uit die water haal en het hom na die rotse gebring, maar die onbekende man het nie reageer nie.”

NSRI-reddingswemmers het ʼn klein rubberbootjie gebruik om die man van die rotse na die boot te neem en hy is na Hermanus-hawe geneem waar paramedici die man dood verklaar het.

Die man se liggaam is aan die forensiese patologiedienste oorgegee. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Die NSRI bedank die buurtwaglid vir sy bystand op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.