Man verdrink by Strand

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die afgelope naweek op verskeie noodgevalle aan die kus gereageer. (Foto: NSRI / Facebook)

Lewensredders het Sondagmiddag tevergeefs probeer om noodhulp op ’n man toe te pas nadat sy lewelose liggaam uit die see by Strand in die Wes-Kaap gehaal is.

Dít was een van vele noodgevalle waarop die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) die afgelope naweek gereageer het.

Volgens die NSRI het nooddienswerkers van GB Med-ambulansdienste ook gepoog om die man by te bring, maar hy is eindelik op die toneel dood verklaar.

Alan Meiklejohn, die NSRI se stasiebevelvoerder in Gordonsbaai, sê die man het vermoedelik verdrink.

“Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek begin en die man se liggaam is aan die regering se forensiese patalogiedienste oorhandig.

“Ons betuig ons meegevoel met die oorledene se familie.”

Man in see vermis, twee gered

 Soektogte na ’n man wat in die see naby Sonwabe in Kaapstad verdwyn het, duur intussen voort.

Lede van die NSRI in Strandfontein is Sondag saam met plaaslike owerhede na die betrokke strand by Baden Powellweg ontbied ná noodoproepe van ’n verdrinking.

Met nooddienswerkers se aankoms op die toneel het hulle ’n man veilig buite die water aangetref terwyl ’n 28-jarige man onder die golwe verdwyn het.

’n Noodhelikopter van EMS/AMS Skymed is ingespan om met die soektog te help, asook lede van die NSRI in Simonstad en ander lewensredders op die toneel.

Die lug-, see- en kussoektog het egter niks opgelewer nie.

“Die soektog deur die Suid-Afrikaanse polisiediens en die polisie se duikeenheid duur voort,” het Vaughn Seconds, die NSRI se stasiebevelvoerder in Strandfontein, gesê.

Terwyl reddingswerkers na die vermiste man gesoek het, het nog ’n man op dieselfde plek in die see in die moeilikheid beland. Die man, vermoedelik in sy 30’s, is veilig uit die water gered en op die toneel behandel.

’n Ander man wat vroeër dieselfde dag by Monwabisi-strand uit die water gered is, is in ’n bestendige toestand na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.

Tiener kritiek

’n Tiener wat Sondag in die see naby Melkbosstrand geswem het, is in ’n bedenklike toestand na ’n hospitaal vervoer nadat hy byna verdrink het.

Peter O’Hanlon, die NSRI se stasiebevelvoerder in Melkbosstrand, sê nooddienswerkers is omstreeks 15:20 na die toneel ontbied.

Die seun van Atlantis is ná ’n kort soektog gevind en uit die see gered.

O’Hanlon sê die tiener is tot voor ’n lewensreddertoring meegesleur waar hy oënskynlik leweloos uit die water gehaal is.

“Paramedici het egter die seun bygebring en hy is in ’n bedenklike toestand na ’n hospitaal vervoer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Innige simpatie met diegene se familie en vriende wie hul geliefdes afgestaan het aan die dood. Verdrinking gebeur so maklik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.