Man verdrink in see naby Kaapstad

Argieffoto van Bloubergstrand.

ʼn Man, vermoedelik in sy 30’s, se liggaam is Sondag by ʼn Wes-Kaapse strand uit die water gebring nadat hy vroeër die dag in die see by ʼn ander nabygeleë strand in die moeilikheid beland het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Melkbosstrand-bemanning is om 17:30 na Dolfynstrand in Table View ontbied waar ʼn soektog van stapel gestuur is na ʼn liggaam wat vermoedelik in die see opgemerk is. Hulle het hulle daar by Blouberg Surf se lewensredders aangesluit.

Die NSRI se Rowan Marais het gesê vlieërplankryers het gemeld dat hulle ʼn liggaam in die water opgemerk het, terwyl ander ooggetuies ook melding gemaak het van ʼn man in ʼn duikpak wat in die moeilikheid was.

Marais het gesê geen sodanige teken van ʼn drenkeling is egter gevind nie.

Later het lewensredders van Blouberg Surf wel bevestig dat hulle besig was met kardiopulmonêre resussitasie op ʼn onbekende man wat deur drie vlieërplankryers na die strand gebring is nadat hulle hom naby die kus van Bloubergstrand in Table View gewaar het.

Die NSRI van Melkbosstrand, die polisie, verskeie nooddiensbeamptes en paramedici het hulle by die reddingspoging aangesluit.

Marais het gesê pogings om die man weer by te bring was onsuksesvol.

Volgens hom het die man glo by Dolfynstrand in die moeilikheid beland, vermoedelik verdrink en gedryf tot by Bloubergstrand waar sy liggaam uit die water gebring is.

Die polisie doen ʼn geregtelike ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.