Man verdrink in strandmeer

Wildernis. Argieffoto: NSRI

ʼn Man het Sondagmiddag verdrink nadat hy by die Touwsrivier-strandmeer by Wildernis aan die Suid-Kaapse kus in die moeilikheid beland het terwyl hy geswem het.

Mike Vonk van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Wildernis het gesê die bemanning is omstreeks 15:50 ontbied nadat hulp ingeroep is vir ʼn drenkeling in die strandmeer. Veldwagters van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, polisiebeamptes en die provinsiale nooddienste is ook ontbied.

“Met ons NSRI-reddingswemmers se aankoms op die toneel is bevestig dat ʼn plaaslike man, in sy laat 40’s, ʼn piekniek saam met sy vriende gehou het voordat hy in die water gegaan en in die moeilikheid beland het,” het Vonk gesê.

“Een van sy vriende het hom te hulp gesnel, maar ook in die moeilikheid beland. Die vriend kon op sy eie uit die water kom en was nie beseer nie, maar die ander man het teen daardie tyd reeds onder die water verdwyn.”

Twee NSRI-swemmers het dadelik in die strandmeer na die man begin soek. Later het nog vier reddingswemmers by hulle aangesluit. Die man is gevind en uit die water gebring.

Mediese beamptes het onmiddellik met kardiopulmonêre resussitasie begin, maar kon die man ondanks al hul pogings nie bybring nie. Hy is op die toneel dood verklaar, het Vonk gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos ·

Dalk iets wat hy geëet of gedrink het by die piekniek wat nie met hom geakkordeer het nie?

Fanie Gerber ·

Net ‘n regstelling – dit staan as Die Touw bekend en nie Touwsrivier nie – Touwsrivier is ‘n dorp op die N1 tussen De Doorns en Matjiesfontein. Die naam kom van die Duiwerivier en die Serpentine se saamvloei by Ebb& Flow. Die twee strome water is een donker en een soms modderig – die lyk soos tou wat saamvleg – baie turbulensie en een plek waar jy uit die water bly as jy nie omgewing ken nie. Dit gese – dit is ‘n tragedie, en ons gebede gaan uit na die familie en vriende.

Frankie ·

Ek stem…dankue Fanie! Baie interesant.

Innige simpatie aan die familie en geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.