Man verdrink in strandmeer

Argieffoto (Foto: NSRI)

ʼn Man het Woensdagmiddag in Knysna se strandmeer verdrink nadat hy hom glo met die diepte van die water misgis en ingespring het hoewel hy nie kan swem nie.

Jerome Simonis, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Knysna-bemanning, het gesê hulle is omstreeks 14:55 deur die polisie na The Point ontbied waar die verdrinking aangemeld is.

Die 24-jarige man was glo saam met sy familie toe hy in die water ingespring het. “Die man het vermoedelik gedink die water is vlak, want hy kon glo nie swem nie,” het Simonis gesê.

Afgesien van die NSRI het lede van die provinsiale nooddienste, die polisie se duikeenheid, die plaaslike brand- en reddingsdienste en die gemeenskapspolisiëringsforum ook op die noodroep gereageer.

Die NSRI se reddingswemmers het met hul aankoms op die toneel dadelik in die strandmeer ingegaan om na die man te soek. Hulle het later sy liggaam opgespoor en ʼn polisieduiker het gehelp om die liggaam uit die water te bring. Paramedici op die toneel het die man dood verklaar.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen. Simonis het gesê traumaberaders staan die man se naasbestaandes by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tammy ·

Ai tog, dis so sleg. Ek het in daardie deel van die land groot geword, net oorkant die Knysna mere. Dis so pragtig daar, maar ek onthou van bitter baie mense wat daar verdrink het. Innige simpatie met die naasbestaandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.