Man verdrink in Vaaldam toe kano sink

Die Vaaldam ter illustrasie. (Foto: Kierano – eie werk, GFDL, via Wikimedia Commons)

’n Man het Saterdag in die Vaaldam by Deneysville in die Vrystaat verdrink toe sy kano gesink het terwyl hy besig was om vislyne bymekaar te maak, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

Volgens Jake Manten, stasiebevelvoerder van NSRI Vaaldam, is hulle omstreeks 10:35 ingelig van ’n verdrinking by Ratepayersbaai in Deneysville.

Lede van NSRI Vaaldam, polisieduikers, die honde-eenheid én reddingspanne is na die toneel gestuur waar hulle ’n soektog na die 35-jarige man geloods het. Die man het onder die water verdwyn toe die kano gesink het, het Manten verduidelik.

Volgens Manten word daar vermoed dat die man na die oewer wou swem, maar in die moeilikheid beland het weens die koue temperatuur van die water. Die watertemperatuur was Saterdag 11 °C.

Polisieduikers het later die lyk van die man in die water gewaar.

’n Geregtelike doodsondersoek word deur die polisie gedoen.

Dié voorval het plaasgevind enkele dae nadat ʼn 19-jarige man in die omgewing van Oranjeville by die Vaaldam gaan visvang en toe spoorloos verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig Bradley Coetzee het verlede naweek met ʼn kano op die dam gaan roei en is later as vermis aangemeld toe hy nie na die oewer teruggekeer het nie.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en die vaartuig asook een van sy skoene is intussen gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

Julius ·

Ek het twee kanos en hulle kan wel omslaan maar nie sink nie. Hulle het ingeboude lugholtes wat keer dat hy nie sink nie.

Mysterie ·

Daar is iets daar in die water of op die oewer wat dophou, ek wonder of die mense se beursies motors ens gevind is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.